|

Laat Jan van Riebeeck jou skryfvermoë vlerke gee

Toe Jan en Maria van Riebeeck 370 jaar gelede in die Kaap aangekom het, sou geen mens kon dink dat hy in 21ste eeu die skuld vir byna alles sou kry wat in Suid-Afrika verkeerd loop nie.

Gelukkig deel bitter weinig mense dié sentiment dat Jan en sy gevolg die rede vir vandag se swak dienslewering, slaggate, ekonomiese verval en algemene agteruitgang is.

Daarom word hulde aan Jan gebring met ’n groot drama- en radiodramaskryfkompetisie wat in 2022 deur die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA), die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys (BCVO) en Pretoria FM aangebied word.

Jan van Riebeeck

Die radiodrama sal op Woensdag 6 April 2022 uitgesaai word en die verhoogdrama sal in September 2022 rondom Erfenisdag by die Voortrekkermonument opgevoer word.

Sowat R20 000 se pryse is op die spel.

Vereistes:

Die dramas moet getrou wees aan geskiedkundige feite, maar humoristiese oomblikke hê. Dit moet handel oor hul reis, aankoms, eerste indrukke en oorlewing in Afrika. Wat hulle verwagtings was en wat hulle gekry het, asook hul reaksie daarop. Dit waaroor hulle gewonder het teenoor die werklikheid. Die beplanning en vestiging van ’n handelstasie met al die uitdagings wat daarmee gepaard gegaan het en hoe dit hulle as gesin (veral die kinders) beïnvloed het, asook die ontwikkeling van ’n nuwe volk en taal.

Die dramas moet vars, nuut en oorspronklik wees, slegs 30 tot maksimum 40 minute lank wees, met hoogstens 5/6 hoofrolspelers (wat die vertolking doen) en 3 spelers wat matrose kan voorstel.

Kompetisiereëls:

  • Daar is twee afdelings om aan deel te neem, naamlik radiodrama en verhoogdrama.
  • Daar is geen beperking op die aantal dramas wat u wil inskryf.
  • Die drama moet getrou aan geskiedkundige feite, nuut, vars en oorspronklik wees (getik op A4, dubbelspasiëring, Ariel 12) en slegs lank genoeg vir 30 tot maksimum 40 minute se opvoer/uitsaaityd.
  •  Die drama moet die skrywer se eie werk wees en nie voorheen gepubliseer of aangebied gewees het vir enige kompetisie nie.
  • Die drama moet in Standaard Afrikaans en korrekte drama-formaat geskryf word met toneel-, agtergrond-, karakter- en dekorbeskrywing, beskrywing van byklanke en rekwisiete, ensovoorts waar van toepassing, ingesluit.
  • Slegs 5 of 6 hoofrolspelers wat die toneel opvoer, met 3 byspelers as byvoorbeeld matrose of burgers.
  • Die skrywer se naam en van, e-posadres en selfoonnommer moet as titelblad vooraan die drama geplaas word.
  • Dramas word op die webwerf ingeskryf of, indien verkies, moet dit ge-epos word saam met die betalingsbewys na gha@afrikaans.org.za om ons nie later as middernag op 31 Januarie 2022, te bereik nie.
  • Die inskrywingsfooi beloop R100 per drama. Doen asseblief ’n elektroniese betaling aan GHA, ABSA, rekening nommer 730140223, takkode 632005 en verwysing: Deelnemer se NAAM en VAN.
  • Die beoordeling word deur kundiges hanteer en as finaal beskou sonder enige verdere korrespondensie.
  • Die wenners van die radiodrama en verhoogdrama ontvang elkeen prysgeld van R6 000 en die naaswenners R 4 000. Die GHA behou die reg om, sonder opgaaf van redes, meer of minder wenners aan te wys.
  • Die deelnemers gee aan die GHA, Pretoria FM en BCVO die volle mag en reg om die drama op te voer, aan te pas, te publiseer en te gebruik soos en waar hulle goeddink. Die dramaturg sal erkenning ontvang en onderneem om die drama nie vir enige ander kompetisie of publikasie in te skryf alvorens die wenners aangekondig is nie.
  • Die wenners sal gedurende Maart 2022 aangekondig word.

Vir meer inligting en om in te skryf, besoek die GHA se webblad by www.afrikaans.org.za of stuur ’n e-pos aan gha@afrikaans.org.za of skakel 0812 50 50 60.

Soortgelyke plasings