|

Laeveld-takke koop tuinboutoerusting aan

Die AfriForum-takke in die Laeveld het onlangs nuwe tuinboutoerusting aangekoop om meer skoonmaakprojekte aan te pak om sodoende die omgewing netjies te hou. Altesaam is twee Stihl-bossiekappers, twee Kohler-industriële grassnyers en een Stihl-kettingsaag gekoop.

Die doel van die toerusting is om die takke toegang te gee tot hoë gehalte masjinerie om meer doeltreffende skoonmaakprojekte in hul gemeenskappe te hou. Swak munisipale dienslewering, wat gepaardgaan met verouderde toerusting, het tot gevolg dat baie parke, sypaadjies en ander gemeenskaplike areas nie meer netjies en skoon gehou word nie. Dit het verder tot gevolg dat indringerplante en misdadigers in baie van die areas oorneem.

“Dit is vir ons ’n voorreg om die toerusting te kon aankoop, aangesien dit ons vrywilligers se hande op grondvlak baie sterker maak. Ons glo dat hierdie toerusting ’n reuseverskil gaan maak in die areas waar munisipaliteite eenvoudig nie meer skoonmaak of netjies hou nie. Die tyd van terugsit en kla is verby en hierdie toerusting is net weereens ’n teken van AfriForum se wil om selfdoen-projekte aan te pak,” sê Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

Die AfriForum-takke in die Laeveld nooi graag die publiek uit om deel te word van hul plaaslike skoonmaakprojekte om eienaarskap te neem van die omgewing. 

Soortgelyke plasings