| |

Grondeisproses verwater tot ’n goedkoop loteryspel

AfriForum neem met groot kommer kennis van die R1,7 miljard wat aan 37 920 mense oorbetaal is vir finansiële vergoeding nadat die meeste van dié aansoekers nie in grond belang gestel het nie, maar eerder finansiële vergoeding wou ontvang.

Die verslag waarin hierdie inligting vervat is, is op 2 Augustus 2019 deur Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, in die parlement in Kaapstad ter tafel gelê.

AfriForum het by verskeie geleenthede in die verlede sy kommer uitgespreek oor die roekelose, ondeurdagte en ongegronde wyse waarop grondeise hanteer word. Die gebrekkige wyse waarop eise ondersoek word, gee daartoe aanleiding dat reusebedrae uit belastinggeld vir dié doeleindes aangewend word. Indien ’n aansoeker dus ’n eis indien, maar dié eis nie slaag nie, dok die belastingbetaler op vir enige kostes wat weens dié opportunistiese kansvatter betaal moet word.

AfriForum staan verskeie eise teen waar die grondeisekommissie grondeise op ongegronde hoorsêgetuienis probeer deurvoer deur die huidige eienaars van die tersaaklike eiendomme mee te deel dat dié eiendomme nie onteien sal word nie, en dat hulle ander opsies oorweeg, soos onder meer finansiële vergoeding van die staat om die eis sodoende met die minste weerstand af te handel. Hierdie manier van doen kom die belastingbetaler duur te staan.

“Die huidige proses wat die owerheid met grondeise volg, skep geleentheid vir enige persoon wat aan die kriteria voldoen om op bedrieglike wyse te probeer om met bykans geen meriete ’n eis vir grond in te dien met die hoop om ’n meevaller vanaf die staat te bekom – sonder enige risiko vir die eiser,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder.

“AfriForum kan nie toelaat dat belastingbetalers se geld op ongegronde grondeise vermors word nie. Die organisasie sal aanhou om die huidige toedrag van sake die stryd aan te sê,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

 

Soortgelyke plasings