Landsburgers en sakelui pak Eskom oor kragtoevoer


AfriForum en AfriSake het ’n gesamentlike hofaansoek teen Eskom gebring om dié kragreus te verplig om die korrekte prosedures rakende die invordering van munisipale skuld, te volg. Dít ten einde eindverbruikers wie se kragrekeninge ten volle betaal is, te beskerm teen die onregmatige onderbreking van kragtoevoer.
’n Reeks ander partye, hoofsaaklik besighede wat negatief deur diesulke kragonderbrekings geraak word, is ook deur die Noord-Gautengse Hoë Hof aangehoor.

“Munisipale skuld aan Eskom het teen die einde van 2016 tot meer as R15 miljard toegeneem. Swak munisipale bestuur gaan lei daartoe dat hierdie bedrag slegs gaan vergroot. Krag wat direk aan verbruikers verkoop word, kan ’n oplossing wees wat verseker dat Eskom geld invorder vir die krag wat hulle lewer. Astral Foods, een van die instansies wat ook deel is van die gesamentlike verrigtinge, het byvoorbeeld ’n skikking met Eskom bereik om elektrisiteit direk van die kragreus te bekom om sodoende die munisipaliteit as wanbetalende middelman uit te skakel,” sê Morné Mostert, hoof van plaaslikeregeringsake by AfriForum.

Die hofaansoek het ten doel om Eskom te dwing om voorgeskrewe prosedures te volg voordat dit bloot munisipaliteite se krag afsny. In Januarie 2017 is ’n reeks munisipaliteite kennis gegee dat kragtoevoer aan hul distrikte gestaak gaan word weens wanbetaling. Dit sou onskuldige verbruikers, wie se rekeninge betaal is, in die donker gelaat het. Alhoewel baie munisipaliteite terugbetalingsooreenkomste met Eskom gesluit het, bestaan die risiko steeds dat Eskom dieselfde taktiek kan inspan as daar weer wanbetalings sou wees.

“Sulke kragonderbrekings is nie net uiters nadelig vir die publiek nie, maar ook vir besighede wat in baie gevalle nie kan funksioneer of wins genereer as die krag af is nie. As hierdie toedrag van sake té lank voortduur, kan die finansiële skade wat dié besighede ly so groot wees dat ondernemings personeel moet afdank of hulle deure moet sluit. Die ekonomiese impak is dus verreikend, maar dit blyk dat Eskom nie die aard en omvang van die potensiële skade aan besighede in ag neem nie,” sê Armand Greyling, regs- en beleidsanalis by AfriSake.

Uitspraak in die verrigtinge word voorbehou. Die hof sal in sy uitspraak duidelikheid gee oor hoe Eskom te werk mag gaan om skuld in te vorder, asook watter wetlike prosedures gevolg moet word voordat kragtoevoer aan munisipale distrikte weens wanbetaling afgesny kan word.

Soortgelyke plasings