|

LESUFI HET SKYNBAAR GEEN VRIENDE MEER BEHALWE ANC-KADERS

Deur Alet Rademeyer

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir Onderwys, het klaarblyklik nie meer enige vriende oor nie behalwe vir sy meelopers in die ANC.

Dié omstrede LUR, wat ook die ANC se adjunkvoorsitter in Gauteng is, se kop is vandeesweek deur vakbonde, opposisiepartye en die burgerregtewaghond AfriForum geëis ná die soveelste storm om sy kop losgebars het.

Lesufi is in die pekel nadat City Press Sondag berig het dat hy ’n stemopname bekom het waarin Lesufi glo met verskeie organisasies sy departement se tenders bespreek het.

Die DA het by monde van Khume Ramulifho, die party se woordvoerder oor onderwys in Gauteng, gesê enigiemand met regstreekse bewyse dat Lesufi inmeng by die beweerde toekenning van regeringstenders moet strafregtelike klagtes daaroor by die polisie indien.

Die party vra dat diegene met inligting na vore moet kom sodat dit aan die integriteitskommissaris van die Gautengse wetgewer voorgelê kan word om ’n ondersoek te doen. Indien bevind word dat Lesufi wel betrek kan word by beweerde korrupsie met tendertoekennings, sal daar ernstige gevolge vir hom wees.

AfriForum het die Gautengse wetgewer ook versoek om druk op David Makhura, die Premier van Gauteng, te plaas om teen Lesufi op te tree.

Volgens Natasha Venter, bestuurder vir onderwysregte by AfriForum, kan die provinsiale wetgewer, by magte van die Grondwet, ’n provinsiale premier verkies en hom/haar ook uit sy/haar amp verwyder sou ’n premier onder meer ongeskik wees om die funksies van sy/haar kantoor uit te voer. “Hierdie funksies sluit in dat ’n premier moet toesien dat sy uitvoerende raad, wat die kantoor van die LUR van Onderwys insluit, hul funksies na behore uitvoer. Makhura het egter enkele dae nadat die opname van Lesufi se uitlatings aan die lig gekom het, sy ondersteuning vir Lesufi uitgespreek en gesê dat hy geen planne het om Lesufi af te dank nie. Makhura kon kwalik binne hierdie tydperk ’n behoorlike ondersoek na die opname geloods het en dit laat rooi vlaggies opduik oor waarom hy Lesufi sonder enige huiwering beskerm.”

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê regsadvies word ingewin sodat daar teen Lesufi opgetree kan word. Die vakbond gaan ook ’n klag by die openbare beskermer (OB) indien om hom te ondersoek.

Volgens hom het Lesufi en sy kaders plunderaars geword onder die dekmantel van regering. “Duisende Solidariteit-lede en ander onderwysers gee hul bes om kinders uitnemend en onder uiters moeilike omstandighede te onderrig. Terwyl hulle skoolhou, help die LUR van onderwys om hul hulpbronne te plunder. Dit is ʼn misdaad teen onderwysers, kinders en ouers.

“Die Grondwet skryf ’n effektiewe staatsdiens voor en nie effektiewe kaderbemagtiging nie. Indien Lesufi nie geskors word nie, word kaderbemagtiging gekondoneer. Ramaphosa en die ANC kan nie sekeres vra om opsy te staan en ander plunder ongesteurd voort nie,” meen Hermann.

Die EFF het ook Lesufi se afdanking geëis. Vuyani Pambo, EFF-woordvoerder, het in ’n verklaring gesê die party is nie verras deur die “suiwer boewery” van Lesufi nie wat elke keer soos ’n cowboy optree wanneer ’n kwessie basiese onderwys in Gauteng bedreig. Dít terwyl hy nooit enigiets oplos nie.

Hy het ook verwys na Lesufi se verontskuldigings onlangs toe dit aan die lig gekom het dat R431 miljoen binne drie maande deur die Gautengse Onderwysdepartement bestee is aan die reiniging en ontsmetting van skole en fasiliteite in dié provinsie.

Volgens die EFF saboteur Lesufi se selfverryking onderwys en die toekoms van kinders.

Die VF Plus gaan benewens die OB ook die Menseregtekommissie nader om Lesufi se tenderuitsprake te ondersoek. Die OB is op versoek van dié party reeds besig om die tenders vir die reiniging van skole te ondersoek.

Die Educators Union of South Africa (EUSA) het ook gevra dat Lesufi opsy staan of geskors word hangende ’n ondersoek na die bewering teen hom.

EUSA is ’n niepolitiese onderwysvakbond en verteenwoordig meer as 27 000 onderwysers en personeel in die onderwyssektor.

Terwyl druk teen Makhura toeneem om teen Lesufi op te tree, het sy woordvoerder aangedui dat hy nie dink daar teen Lesufi opgetree sal word nie omdat die bewerings teen hom glo ongegrond is.

AfriForum voer sedert 2015 ’n volgehoue stryd en het verskeie veldtogte aangepak om van Lesufi ontslae te raak. Die redes wat hiermee verband hou, sluit in:

  • Lesufi se instelling van ’n plasingsproses vir voornemende laer- en hoërskoolleerlinge wat tot groot ongelukkigheid en chaos gelei het met duisende kinders wat nie betyds in skole geplaas kon word nie.
  • In 2015 het AfriForum sy #LesufiMoetVal-veldtog van stapel gestuur ná Lesufi se talle omstrede voorstelle om die Skolewet te verander en ’n konsep van “tweelingskole” – waar goed funksionerende skole met sukkelende skole moet saamsmelt – in te stel.
  • In 2016 het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, Lesufi in ’n robuuste openbare debat in Tembisa aan die Oos-Rand gepak nadat hy ’n fel stryd vir die wegdoen met Afrikaanse skole gevoer het. Lesufi het reeds herhaaldelik geen geheim daarvan gemaak dat hy Afrikaanssprekendes minag en Afrikaanse skole teiken nie.
  • In 2018 het die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria ’n opdrag van die Gautengse Onderwysdepartement ter syde gestel wat aangevoer het dat die Hoërskool Overvaal in Vereeniging 55 Engelssprekende leerders moet inneem. Ontstoke ouers het ná die uitspraak gedreig om die skool te ontwrig of selfs af te brand en AfriForum is ontplooi om te help.
  • Lesufi het in 2018 ook sy veldtog oor die voorgenome wysigings aan wetgewing oor basiese onderwys voortgesit wat die departement sentrale mag oor onder meer aanstellings, plasings en taalbeleide sou gee en alle mag van skoolbeheerliggame sou ontneem. AfriForum, die Skoleondersteuningsentrum (SOS) en Solidariteit het duisende bekommerde ouers, onderwysers en lede van die publiek gemobiliseer om hul kommentaar téén die regulasies in te dien.
  • In 2019 het AfriForum ’n klag teen die Gautengse Onderwysdepartement vir wanbesteding van sowat R900 miljoen ingedien.
  • Lesufi dryf ’n politieke agenda en het hom al telkens oor die taalbeleid en demografie van skole uitgespreek eerder as om die nodige aandag aan onderwysprobleme soos slaagsyfers, gehalte-onderrig en skoolveiligheid te gee.

Hermann sê “dit is tyd vir die man om te gaan”.

Soortgelyke plasings