|

Lesufi se kriteria vir aansoeke tot skole is resep vir chaos

Spanning oor skole se taalbeleide bou op nadat Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, gister tydens ’n mediakonferensie oor die opening van die provinsie se aanlynaansoeke gesê het dat ’n leerling se moedertaal geen rol speel in die departement se plasingsproses nie.

Aanlynaansoeke vir voornemende gr.1- en gr. 8-leerlinge in Gauteng open Maandag 16 April om 08:00 en sluit op 28 Mei om middernag.

Lesufi het gesê leerlinge kan by enige skool inskryf, ongeag hul moedertaal of hul skool van voorkeur se taalbeleid. Volgens hom word leerlinge se moedertaal slegs vir statistiese doeleindes gevra en dat die departement met dié inligting kan bepaal waar daar skole is met taalbeleide wat nie kinders in hul omgewing kan akkommodeer nie. Hy meen skoolomgewings se demografie is besig om te verander en dit moet met plasing van leerlinge in ag geneem word.

“Ouers moet aansoek doen by skole wat die naaste aan hul werk of huis is. Dit maak nie saak wat die skool se taalbeleid is nie. As genoeg leerlinge aansoek doen by ’n skool wat nie onderrig in hul moedertaal aanbied nie, sal die beheerliggaam genader en die  nodige prosesse gevolg word om te verseker dat ’n skool sy taalbeleid verander.”

Volgens Carien Bloem, koördineerder van onderwys by AfriForum, is dit van kritieke belang dat ouers wat hul kinders by Afrikaanse skole wil inskryf, vinnig moet spring.

“Volgens Lesufi is 98% van leerlinge wat verlede jaar betyds geregistreer is by die skole van hul keuse geplaas. Daarom is dit uiters belangrik dat Afrikaanse ouers flink moet optree en hul kinders vinnig moet inskryf om op só ’n wyse te help dat skole se taalbeleide onveranderd gehou word.”

Sy sê voorts dat die veranderings aan die stelsel positief lyk, maar dat die sukses daarvan in die komende maand bepaal sal word.

“Lesufi skep ’n wanindruk dat ouers hul kinders by enige skool kan inskryf en dat die kind moontlik daar geplaas kan word.”

Sy verwysing dat ’n “graderingstelsel vir skole” ook volgende jaar by die kriteria gevoeg kan word waarvolgens ouers op ’n skool besluit, is ook kommerwekkend omdat ouers dan weer nie ’n skool volgens hul voedingsgebied sal kies nie.

Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), het ook sy kommer uitgespreek oor die invloed wat die aansoekproses op skole te taalbeleide kan hê.  Hy meen die departement is besig om nog “Overvaal-gevalle” te skep wat onderwys in die provinsie in chaos kan dompel. Fedsas sal regstappe oorweeg indien die departement met sy planne voortgaan.

Melanie Buys, onderwysspesialis by die Skoleondersteuningsentrum van Helpende Hand, het daarop gewys dat die departement voorkeur kan gee aan leerlinge wat eerste inskryf, ongeag hul moedertaal en om dié rede moet ouers spoedig optree. Sy meen die departement wil soos met die Overvaal-geval druk op skole plaas om hul taalbeleide te verander.

Ander feite:

  • Volgens die departement is die stelsel vanjaar gemoderniseer en aangepas om sowat 35 000 verbruikers per sekonde te akkommodeer.
  • Slegs ouers met voornemende gr.1- en gr. 8-leerlinge in Gauteng moet op dié stelsel aansoek doen.
  • Die registrasieproses duur tussen 16 April en 28 Mei. Daarna sal die plasingsproses tussen 18 Julie en 28 September plaasvind.
  • Ouers mag by ’n maksimum van vyf skole aansoek doen.
  • Ouers sonder internettoegang kan by hul naaste skool, distrikskantoor of biblioteek aansoek doen.
  • Kinders in gr. R word nie outomaties by hul betrokke laerskole aanvaar nie, ouers moet steeds aansoek doen.
  • Kinders met gestremdhede kan nie deur dié stelsel aansoek doen nie. (Skole vir gestremde is nie op die databasis nie.)
  • Ouers se korrekte kontakbesonderhede is van kritiese belang om bevestigingsboodskappe van die departement te kry.
  • Indien jou skool van voorkeur nie op die lys is nie, is hy moontlik reeds vol en van die stelsel verwyder.
  • Die webtuiste waar aansoek gedoen kan word is https://www.intake.gdeadmissions.gov.za/

Soortgelyke plasings