| |

Lewenslank vir verkragter wat vrou met MIV besmet

Die Pretoria-landdroshof het vandag die voormalige SANW spesiale magte operateur Leon Santos Conga tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis vir verkragting en poging tot moord. Hierdie vonnisoplegging sluit ’n saak af waarby AfriForum se privaatvervolgingseenheid sedert 2018 betrokke is ná die slagoffer, Antoinette Ndishishi, dié eenheid genader het. Dié saak sou nooit op die rol geplaas geword het as dit nie vir die privaatvervolgingseenheid was wat verseker het dat kritieke bewyse verkry kon word en in die dossier ingesluit kon word nie.

Die landdroshof het Conga in Junie vanjaar skuldig bevind op klagtes van verkragting en poing tot moord. Landdros Fikiswa Ntlati het onder meer tydens die vonnisoplegging gesê dat sy nie ’n rede sien om Conga nie die voorgestelde minimum vonnis van lewenslange gevangenis op te lê nie. Sy het verder beklemtoon dat hierdie ’n baie ernstige oortreding is wat verwoestende gevolge vir die slagoffer en haar familie berokken het. Volgens landdros Ntlati moet Ndishishi nou vir die res van haar lewe met die stigma van MIV leef, dít terwyl die beskuldigde steeds geen berou vir sy oortreding toon nie.

Ndishishi het die privaatvervolgingseenheid bedank vir hul toetrede en monitering van die saak op elke vlak, maar sy is veral verlig dat die saak uiteindelik tot ’n einde gekom het: “Ek is baie bly hieroor, veral omdat ek nou al vir sewe jaar lank veg vir geregtigheid. Toe ek besluit het om te veg vir geregtigheid het ek dit gedoen sodat ander mense ook na vore kan kom met hul eie stories. Dit is nie maklik nie, maar hulle moet nie bang wees nie. Hulle moet sterk staan. As mens net die waarheid praat dan kan niks verkeerd loop nie,” sê Ndishishi.

Slang Maangwale, ’n ondersoeker by die privaatvervolgingseenheid, het elke hofverskyning bygewoon om te verseker dat die saak verloop soos dit moet. “Ek het baie noukeurig na die magistraat geluister en sy het ’n goeie vonnis gelewer aangesien dit ’n boodskap stuur. Hierdie saak sloer nou al vir baie lank. As AfriForum nie betrokke geraak het nie sou hierdie saak waarskynlik nooit opgelos geword het nie. Ek was elke dag daar om vir Antoinette by te staan en seker te maak dat geregtigheid geskied,” sê Maangwale.

Barry Bateman, woordvoerder vir die privaatvervolgingseenheid, sê dat dit ’n aanklag op die strafregstelsel is dat dit so lank gevat het om hierdie saak te finaliseer. “Soos so baie ander sake wat deur AfriForum se privaatvervolgingseenheid gemoniteer word sou hierdie saak nie tot hier gevorder het sonder die eenheid se betrokkenheid nie. Antoinette het ongelooflike vasberadenheid gewys om haar stem te laat hoor en te verseker dat geregtigheid vir haar geskied. Dit is egter ’n voorbeeld van hoe hard vroue moet veg binne die strafregstelsel om oortreders in sake van geslagsgebaseerde geweld tot verantwoording te bring. Ons bly teleurgesteld in die SANW vir hul versuim om een van hul eie vroulike lede by te staan in hierdie saak. Die privaatvervolgingseenheid sal egter voortgaan om slagoffers van misdaad te ondersteun,” sê Bateman.

Die privaatvervolgingseenheid het in 2018 by hierdie saak betrokke geraak toe die eenheid die SANW gedwing het om Conga se mediese rekords beskikbaar te stel wat gewys het dat hy reeds sedert 2007 bewus was van sy MIV-status. Hul versuim om hierdie rekords aan die Nasionalevervolgingsgesag (NVG) beskikbaar te stel het daartoe gelei dat die saak twee keer teruggetrek is. Sonder hierdie rekords sou baie belangrike bewyse uit die dosier ontbreek het om die beskuldigde te vervolg. Conga het in Maart 2022 onskuldig gepleit op die klagtes teen hom.

In Junie vanjaar het landdros Ntlati Conga skuldig bevind aan verkragting aangesien Ndishishi slegs ingestem het tot gemeenskap met hom omdat hy gesê het dat hy MIV-negatief is. Die hof het Ndishishi se getuienis aanvaar dat indien Conga sy MIV-status aan haar bekendgemaak het sy nie sou instem tot gemeenskap met hom nie. Die paartjie het die kwessie bespreek en hy het hierdie kardinale  inligting van haar weerhou.

Landdros Ntlati het Conga ook aan poging tot moord skuldig bevind aangesien hy Ndishishi met die virus besmet het ten spyte daarvan dat hy bewus was van sy MIV-status en haar nie daarvan ingelig het nie. Die hof het deskundige getuienis aanvaar dat MIV ’n “ongeneeslike en dodelike siekte” is.

Soortgelyke plasings