Libanon-vullisterrein kry volpunte vir AfriForum se vullisterreinoudit


AfriForum het die Libanon-vullisterrein in Westonaria in Februarie vanjaar besoek en geoudit om die jaarlikse nasionale vullisterreinoudit af te skop. Die vullisterrein het ’n 100%-telling in dié oudit behaal en toon ’n reuseverbetering van die 9% wat in 2018 behaal is. Die oudit is gedoen aan die hand van die minimum vereistes waaraan ’n vullisterrein volgens wetgewing moet voldoen. Libanon-vullisterrein het in 2017 slegs 47% behaal.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se projekkoördineerder vir omgewingsake, is die vullisterrein ’n goeie voorbeeld van hoe samewerking tussen gemeenskaprolspelers en die plaaslike owerhede ’n  wanfunksionele vullisterrein weer op die regte spoor te kry. “Dit het die munisipaliteit minder as ses maande geneem om die vullisterrein weer op standaard te kry. Dit is ’n goeie voorbeeld van samewerking tussen verskillende rolspelers om ’n groot verbetering mee te bring,” sê Grobbelaar.
Hy noem ook dat die vullisterrein in verlede jaar se vullisterreinouditverslag een van 11 vullisterreine was wat as probleem geïdentifiseer en daarna met die departement van omgewingsake bespreek is. “Ons het die lys aan die departement van omgewingsake oorhandig om die omgewingskwessie op te los. Die departement het die daad by die woord gevoeg en mens kan ’n duidelike verbetering sien,” sê Grobbelaar.
Dewet Ungerer, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Wesrand, sê die drastiese verbetering is te danke aan ’n komitee wat deur Moses Makwana, die afvalbestuurder, in die lewe geroep is. Die komitee het belanghebbendes uitgenooi om insette oor die saak te lewer. “Dit is merkwaardig om in so ’n kort tydperk van 9% tot 100% te verbeter. Ons sal graag wou sien dat ander munisipaliteite dieselfde strategie in dorpe volg waar vullisterreine ’n probleem is,” sê Ungerer.
“AfriForum sal voortgaan om die jaarlike nasionale vullisterreinoudit te doen om te verseker dat ons vullisterreine reg bestuur word. Die Libanon-vullisterrein wys vir ons die waarde wat die nasionale verslag inhou en ook die sukses wat bereik kan word deur toegepaste druk en goeie samewerking tussen verskillende partye,” sluit Grobbelaar af.

Ondersteun AfriForum se vullisterreinouditprojek: SMS die naam van jou dorp na 45354 (R1).

Soortgelyke plasings