|

Life Esidimeni-GDO: Dokter getuig dat erge ‘mediese nalatigheid’ tot pasiënt se dood lei

Dr. Deon Lombaard, ’n dokter met ’n privaat praktyk in Rayton wat vir Jaco Stols (een van die 144 slagoffers in die berugte Life Esidimeni-tragedie) in 2016 behandel het, het vandag getuig dat Stols in ’n haglike toestand was as gevolg van wanvoeding en dehidrasie toe hy hom ondersoek het. Hy het ook getuig dat Stols onverklaarbare merke op sy liggaam gehad het en slegs 39 kg geweeg het. Dr. Lombaard het getuig dat die enigste verduideliking vir Stols se toestand is dat die pasiënt ernstige mediese verwaarlosing en wanvoeding ervaar het wat gely het tot diabetiese simptome, maagsere, ’n swak immuunstelsel en uiteindelik sy dood.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid, in samewerking met Solidariteit Helpende Hand, verteenwoordig Sandra de Villiers, Stols se suster, in hierdie GDO. Adv. Phyllis Vorster, aanklaer by die privaatvervolgingseenheid, is ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag aangestel om De Villiers by te staan en het ook vandag die hoofondervraging van dr. Lombaard behartig. De Villiers het haar broer in September 2016 na dr. Lombaard geneem nadat sy waargeneem het dat hy baie siek was.

Stols was ’n intellektueel gestremde man met die breinvermoë van ’n negejarige kind en was vir 18 jaar in die Cullinan Care and Rehabilitation Centre (CCRC) voordat hy as deel van die Life Esidimeni-geldbesparingsplan op 9 Mei 2016 na die nuwe Siyabadinga-sentrum in Cullinan oorgeplaas is. Hy is in Julie 2016 teruggeplaas na CCRC nadat dit aan die lig gekom het dat die Siyabadinga-sentrum sonder die nodige lisensies bedryf is. Dit is volgens dr. Lombaard se getuienis by hierdie sentrum waar Stols tot só mate verwaarloos is dat hy gesterf het.

Dr. Lombaard wat in die 1990’s vir 10 jaar die superintendent en later uitvoerende hoof van CCRC was, het die nodige binneaarse voeding en medikasie aan Stols voorgeskryf en ’n brief aan die sentrum gestuur oor die geskikte mediese behandeling van Stols. Hy het getuig dat daar tydens sy ampstermyn ’n mediese saal by die sentrum was en dat pasiënte die nodige behandeling daar sou ontvang het. Dit blyk egter volgens dr. Lombaard se getuienis dat dit nie gebeur het nie.

“Hoe meer getuienis in hierdie GDO gelei word, hoe duideliker word dit dat iemand aanspreeklik gehou móét word vir die nalatige oorsaak van dood van die 144 pasiënte. Ons is oortuig daarvan dat hier gronde vir vervolging bestaan en hoop dat die Nasionale Vervolgingsgesag die partye wat in hierdie GDO geïmpliseer word, sal vervolg ten einde geregtigheid te laat geskied vir die weerlose mense wat op so wrede wyse moes sterf,” sê Wico Swanepoel, prokureur by AfriForum se Privaatvervolgingseenheid.

“Sandra de Villiers het gister getuig dat sy net geregtigheid vir haar broer soek en dit is al waarna Solidariteit Helpende Hand ook streef in hierdie saak. Ons wil hê dat die mense wat verantwoordelik is, verantwoordbaar gehou moet word sodat ons aan die einde van die dag kan omsien na die holistiese welstand van kwesbare groepe mense, in hierdie geval mense met gestremdhede. Dit is belangrik om om te sien na die mense wat nie na hulself kan omsien nie en ook om ’n stem te wees vir diegene wat nie vir hulself kan praat nie,” sê René Roux, adjunk- uitvoerende hoof by Solidariteit Helpende Hand.

Soortgelyke plasings