|

Lokprent oor geweld tydens struggle werp lig op ANC leuens en verdraaiings

Tainted Heroes, die dokumentêre film wat handel oor die ANC se oneerbare verlede tydens die struggle, is noodsaaklik sodat die verdraaiings en skewe beeld wat die ANC-regering vandag voorhou, blootgelê kan word.

Só het bekendes en gaste by die bekendstelling van die lokprent in Centurion gesê.

Dr. Anthea Jeffery, senior navorser by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) en skrywer van People’s War, die boek waarop Tainted Heroes gegrond is, het ’n voorlegging oor die geskiedenis van die ANC en dié bevrydingsbeweging se gewelddadige en propagandistiese optrede tydens die struggle-jare gelewer.

Sy het verwys na hoe die ANC by die kommuniste en Vietnam geleer het om sy strategie van People’s War te volvoer deur middel van geweld, moorde, halsmoorde, boikotte, opstande, betogings, ondergrondse selle en die plant van bomme wat talle onskuldige mense gedood het.

Jeffery het ook toegelig hoe die ANC uiteindelik ook ’n doelbewuste strategie gevolg het om teenstanders soos Inkatha uit te wis en te verswak. Die ANC het gepoog om met sy Derde Mag-teorie die oorsake van sy geweld voor die deur van die destydse polisie en Inkatha te lê.

Dit is beaam deur Strike Thokoane, adjunk-president van Azapo en eertydse leier van die Swart Bewussynsbeweging, en Mangosuthu Buthelezi, leier van die IVP, wat ook voorleggings gedoen het.

Hulle verhale word saam met die van ander soos genl. Johan van der Merwe, genl. Siphiwe Nyanda, voormalige hoof van Umkhonto we Sizwe, genl. Constand Viljoen, voormalige hoof van die SA weermag, Tony Leon, voormalige leier van die DA en die vryheidsveteraan Ronnie Kasrils vertel.

Thokoane het gesê die ANC het ’n kultuur van geweld geskep wat vandag steeds in die land heers.

Volgens hom het die ANC tydens die gewapende stryd toenemend onverdraagsaam teenoor ondersteuners en leiers van die Swart Bewussynsbeweging (soos Steve Biko) geraak tot só ’n mate dat mense deur byvoorbeeld halsmoorde om die lewe gebring is deur diegene wat hulself bevryders genoem het.

“Ons het nooit gedink dat ons aan die hand van ons eie mense sal sterf nie.”

Thokoane het gesê hy is ’n politikus en rewolusionêr en daar is baie dinge waarmee hy byvoorbeeld van AfriForum verskil. Hy verwelkom dit egter dat die verhaal van geweld teen Azapo en die Swart Bewussynsbeweging vertel word asook van hoe die ANC die lede van die beweging van rassisme beskuldig het. Biko is onder meer uitgekryt dat hy eintlik ’n CIA-agent was.

Thokoane het gesê die werklikheid vandag is dat dit baie moeilik gaan wees om vertroue te bou en vrede in die land te kry. Daar is soveel jongmense wat niks van apartheid weet nie. Jongmense wat met letsels en trauma loop. Nie weens apartheid nie, maar wat hul eie mense aan hulle gedoen het.

Buthelezi het in sy voorlegging verwys na die werk van Jeffery, vir wie hy die grootste respek het. “Dit is altyd vir my ’n voorreg om in dieselfde vertrek as sy te wees. “Ek het ongelooflike bewondering vir haar vir wat sy gedoen het vir die rekord van die geskiedenis.”

Buthelezi het verwys na die propaganda waarop die ANC sy grondslag gebou het en die eenvoudige narratief wat vir dekades in stand gehou is van ’n bose wit regering versus die regverdige ANC. “Geen ruimte is gelaat vir die bydra van enige ander protagonis nie.”

Volgens Buthelezi was dit maklik vir die internasionale gemeenskap om die narratief te omarm. “As die ANC die teenstander van die bose is, dan moet dit per definisie goed wees en as aksies bedoel was om apartheid af te breek, kon niks daarmee verkeerd wees nie. Dit was egter ver van die waarheid,” het hy gesê.

Buthelezi het vertel dat hy nie daarmee saamgestem het toe die ANC vir ekonomiese sanksies teen Suid-Afrika gevra het nie omdat hy geweet het dit tot hongersnood en armoede sou lei. “Die ANC het sy aanvalle teen my begin verskerp en in die openbaar selfs gesê dat ek ’n slang is wat op die kop geslaan moet word.”

Buthelezi het vertel dat hy altyd daarin geglo het om die morele hoë grond te behou en dat onderhandelings en ’n beleid van geen-geweld nie oorboord gegooi kon word nie.

Volgens hom het die ANC sy oorlog teen Inkatha later verskerp. Die strategie was om gevestigde gemeenskapsleiers te vermoor en met ANC-leiers te vervang. Meer as 400 IVP-leiers is stelselmatig vermoor en geen van die sterftes is ooit volledig ondersoek nie.

Volgens Buthelezi het moord, verkragting en verminking aan die orde van die dag geraak. Desondanks het hy steeds geweld teengestaan.

Buthelezi het na die verhore by die Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK) verwys en gesê hy het nooit vir amnestie aansoek gedoen nie, omdat hy niks verkeerd gedoen het nie.

“My gewete is skoon, maar my hart is onrustig. Ek weet die wonde van ons mense het nog nie herstel nie. En die huidige leiers van die ANC is min gepla om iets daaraan te doen.”

Buthelezi het gesê 21 jaar in die demokrasie in is die fokus van die IVF steeds op vryheid, eenheid en vrede. “Ons is vandag steeds in ’n oorlog vasgevang. Dit is dank Vader nie een met AK47’s, halsmoorde en terreur nie. Maar ’n oorlog teen korrupsie, groeiende verdeeldheid, armoede, swak leierskap en ekonomiese krisis.”

 

BEKENDES OOR TAINTED HEROES:

Gerrie Pretorius: Dit is ’n skokkend, dog ontstellend eerlike film. Dit is goed wat ons geweet het, maar waaroor nie gepraat is nie. Dit is tyd dat mense dit weer hoor aangesien die ANC in ’n staat van ontkenning is. Net soos wat dit in ontkenning oor dinge soos plaasmoorde is. Hulle weet waaroor dit gaan, maar ontken dit.

TH-trailer_16
Gerrie Pretorius by die bekendstelling van die lokprent van Tainted Heroes

 

 

Dawie Roodt: Dit is belangrik dat almal in Suid-Afrika deel van die land moet voel. Die geskiedenis moet inklusief wees vir ons almal. Die soet en suur daarvan. Wat ons tot nou toe gevoer is, is dat ons ’n eksklusiewe land is waar sekere mense uitgesluit word. Ek voel vervreemd in die land en inisiatiewe soos die film is nodig om te wys wat die skewe beeld is wat die ANC voorhou.

Chris Chameleon: Ek is beïndruk om te sien watter uiteenlopende individue die film byeen gebring het. Ek sien dit as die inleiding van ’n nuwe tydvak waar mense hul verskille opsy kan sit om vir ’n gesamentlike saak te staan. Die film is ’n ander weergawe van die oorheersende vertelling van die geskiednis. Ek gaan beslis die hele dokumentêr kyk en meen ander mense behoort dit ook te doen.

Chris Chameleon by die bekendstelling vir die lokprent van Tainted Heroes
Chris Chameleon by die bekendstelling vir die lokprent van Tainted Heroes

Soortgelyke plasings