|

LUR vir onderwys kom met nóg bogvoorstelle om gewraakte transformasie te dryf

images (11)

Panyaza Lesufi, omstrede LUR vir onderwys in Gauteng, het dit wéér reggekry om ouers met kinders in openbare skole die harnas in te jaag.

Lesufi se jongste belaglike voorstel is dat die landsvlag op alle skooluniforms moet verskyn om kwansuis “die nasionale simbole te ondersteun”.

Lesufi het gister op ’n radiostasie uitgevaar teen skole wat sogenaamd “teen transformasie baklei”.

Hy wil nie net die landswapen op elke uniform sien pryk nie, maar het ook sy dreigement teen skole met “apartheidsname” herhaal as hulle nie teen September met voorstelle of ’n proses vir naamsverandering kom nie. “Ons wil nie aan Hendrik Verwoerd of Jan Smuts herinner word nie. 60% van die land is deur apartheid seergemaak. Waarom hulle herinner,” het hy glo gesê.

Lesufi het sedert die begin van die jaar opslae gemaak nadat die een ondeurdagte plan na die ander aangekondig is. Hy wou onder meer “ryk skole met arm skole laat saamsmelt” (tweeling-skole) om sodoende toe te sien dat ryk skole gedwing word om hul hulpbronne en personeel met sogenaamde benadeelde skole te deel. Hy het ook die wind van voor gekry toe hy Afrikaanse skole verlede jaar wou dwing om 24 000 Engelssprekende leerlinge in te neem waarvoor daar nie in Engelse skole plek was nie en waarvoor die departement nie beplan het nie.

Hy was ook in die spervuur oor sy omstrede plan om elke leerling met ’n tablet toe te rus met die idee om kinders ’n voorsprong in die gebruik van tegnologie te gee. Dié plan het egter lelik skeefgeloop nadat dit aan die lig gekom het dat derduisende tablette wegraak en nie tot voordeel van onderrig gebruik word nie.

Nog ’n reuseflater wat Lesufi begaan het was sy aankondiging dat die provinsie gaan wegdoen met skole se voormalige papiergedrewe inskrywingsproses en dat ouers slegs aanlyn aansoek sal  kan doen om hul kinders vir volgende jaar by skole in Gauteng in te skryf. Sy hoofdoel met die proses is om ’n gesentraliseerde databasis te ontwikkel wat die departement sal help met die monitering van toelatingsprosedures in die provinsie asook om die aansoekproses meer toeganklik vir ouers te maak. Die stelsel het tientalle probleme opgelewer en is steeds nie 100% funksioneel nie.

Carien Bloem, projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum, het gesê die aanlynregistrasieplatform is net nog ʼn manier om die onderwysdepartement in ʼn posisie te plaas om beheer te hê oor die plasing van leerlinge in skole.  “Die doel van hierdie registrasieplatform is nie om ouers te help en lang rye vry te spring nie, nog minder om alle skole gelyke registrasietydperke te gee nie. Dit is ook teenstrydig met die Skolewet waar ʼn skoolbeheerliggaam besluit oor die skool se toelatingsbeleid.”

AfriForum het hom reeds herhaaldelik teen Lesufi se planne uitgespreek en gesê sy optrede kom op niks anders as magsvergrype en goedkoop politiek neer nie.

Onderwyskundiges meen ook Lesufi is met niks anders as goedkoop politiekery besig nie. “Hy kom nie die mas as LUR op om sukkelende disfunksionele skole reg te ruk nie en daarom is sy visier op veral Afrikaanse skole waar gehalte-onderrig nog gegee word.

“Lesufi maak soos sy voorgangers dieselfde fout deurdat hulle nie behoorlik vir onderwys in Gauteng kan beplan nie. Hy is ’n arrogante politikus wat oral waar hy gaan besig is om vir hom vyande in die onderwys te maak,” het ’n kenner aan Forum Nuus gesê.

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) het gesê Lesufi se plan met die landsvlag op uniforms gaan ouers net nog meer vir skoolfooie laat opdok. Hierdie voorstel en ander soos om skole se name te verander of groter insae in die samestelling van skoolbeheerliggame te hê of wit onderwysers na swart skole te stuur en andersom gaan nie help om transformasie aan te pak nie, meen dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van Fedsas.

 

 

Soortgelyke plasings