Só lyk Gauteng-Suid se vullisterreine


AfriForum het vanjaar 127 vullisterreine in al nege provinsies geoudit as deel van hul nasionale projek om die gehalte van vullisterreine in Suid-Afrika te meet.

Slegs twee uit agt vullisterreine wat in Gauteng-Suid geoudit is, het aan nasionale standaarde voldoen. Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis, 2008 (wetno. 59 van 2008), moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen.
Só vergelyk die statistiek vir vullisterreine in Gauteng-Suid tussen 2017 en 2019:

Vullisterreinnaam Munisipaliteit Lisensienommer 2017 2018 2019
Vereeniging (Sonlandpark) Emfuleni 8% 4%
Waldrift Emfuleni 006/15-16/W0004 68%
Vanderbijlpark Emfuleni 28% 38% 32%
Meyerton Midvaal 002/12-13/W0001 96% 96% 100%
Westonaria (Libanon) Rand West City 16/2/7/C231/D21/Z 47% 9% 100%
Randfontein Rand West City B33/2/323/34/P12 33% 26% 46%
Roodepoort/Krugersdorp Stad Johannesburg 34%
Heidelberg Lesedi 12/9/11/P80 18% 30% 18%

 
Die oudit bestaan uit ’n lys van 33 vrae wat die minimum vereistes vir vullisterreine in Suid-Afrika meet en sluit faktore soos toegangsbeheer, brande, mediese afval, omheining en rehabilitasie in. ’n Vullisterrein moet minstens 80% behaal om aan wetgewing te voldoen.

Volgens Dewet Ungerer, AfriForum se assistentkoördineer vir die Wes-Rand, is die meeste vullisterreine in die gebied in ’n haglike toestand. “Meeste vullisterreine is in ’n slegte toestand en dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan wanbesteding van fondse en die onkundige besluite wat in hoë posisies gemaak word.”

Ungerer sê voorts dat die afwesigheid van afvalbestuurslisensies en die tekort aan die nodige hulpbronne by hierdie vullisterreine van die grootste probleme was wat AfriForum tydens dié oudit opgemerk het.
AfriForum-takke sal ook druk op owerhede in hul gebiede plaas om afvalmoniteringskomitees te stig om die afvalbestuursproses te verbeter. Dié komitees sal bestaan uit munisipaliteite en belanghebbende partye wat vullisbestuur in die betrokke dorp wil verbeter.
Die ouditverslag sal ook aan die Groen Skerpioene oorhandig word vir verdere ondersoek en optrede teen skuldige munisipaliteite. AfriForum sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat vullisterreine op peil gebring word.

Soortgelyke plasings