Só lyk Groter Pretoria se vullisterreine


AfriForum het vanjaar 127 vullisterreine in al nege provinsies geoudit as deel van hul nasionale projek om die gehalte van vullisterreine in Suid-Afrika te meet.

Slegs twee uit sewe vullisterreine wat in die Groter Pretoria-gebied geoudit is, het nie aan nasionale standaarde voldoen nie. Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis, 2008 (wetno. 59 van 2008), moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen.
Só vergelyk die beste vullisterreine met die slegste:
 

Beste Persentasie Slegste Persentasie
Bon Accord (The Waste Group) 94 Onderstepoort (Stad Tshwane Metro) 76
Mooiplaats (The Waste Group) 96 Soshanguve (Stad Tshwane Metro) 78
Ga-Rankuwa  (Stad Tshwane Metro) 92    
Hatherley (Stad Tshwane Metro) 88    
Bronkhorstspruit          (Stad Tshwane Metro) 84    

Die oudit bestaan uit ’n lys van 33 vrae wat die minimum vereistes vir vullisterreine in Suid-Afrika meet en sluit faktore soos toegangsbeheer, brande, mediese afval, omheining en rehabilitasie in. ’n Vullisterrein moet minstens 80% behaal om aan wetgewing te voldoen.

Volgens Lambert de Klerk, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria, is die meeste vullisterreine in Groter Pretoria in ’n goeie toestand. “Die meeste vullisterreine is in ’n goeie toestand en dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan goeie bestuur van die metro. Daar is egter geleentheid vir verbetering as jy dit met die privaat vullisterreine vergelyk.”

AfriForum-takke sal ook druk op owerhede in hul gebiede plaas om afvalmoniteringskomitees te stig om die afvalbestuursproses te verbeter. Dié komitees sal bestaan uit munisipaliteite en belanghebbende partye wat vullisbestuur in die betrokke dorp wil verbeter.
Die ouditverslag sal ook aan die Groen Skerpioene oorhandig word vir verdere ondersoek en optrede teen skuldige munisipaliteite. AfriForum sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat vullisterreine op peil gebring word.

Soortgelyke plasings