Só lyk Mpumalanga se vullisterreine


AfriForum het vanjaar 127 vullisterreine in al nege provinsies geoudit as deel van ’n nasionale projek om die gehalte van vullisterreine in Suid-Afrika te meet.

Slegs 5 uit 25 vullisterreine wat in Mpumalanga geoudit is, het aan nasionale standaarde voldoen. Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis, 2008 (wet no. 59 van 2008), moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen.
Só vergelyk die vullisterreine:

Beste Persentasie Slegste Persentasie
Middelburg 92% Standerton 0%
Witrivier 80% Breyten 0%
Arnot 75% Evander 0%
Nelspruit 74% Morgenzon 0%
    Dullstroom 4%
    Bethal 10%

Die oudit bestaan uit ’n lys van 33 vrae wat die minimum vereistes vir vullisterreine in Suid-Afrika in terme van toegangsbeheer, brande, mediese afval, omheining en rehabilitasie meet. ’n Vullisterrein moet minstens 80% behaal om aan wetgewing te voldoen.

Volgens Bronwen Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, is die meeste vullisterreine in Mpumalanga in ’n haglike toestand. “Dit kan hoofsaaklik aan ’n gebrek aan instandhouding en toerusting toegeskryf word.”
Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld, sê dat die afwesigheid van afvalbestuurslisensies ’n groot probleem is. “Die probleem word ook vererger wanneer stakende munisipale werkers dié terreine onwettig sluit en die munisipaliteit die rommel onwettig buite die terrein stort,” sê Bekker.
“As daar boonop van diensverskaffers verander word, kan dit ’n beduidende impak op die toestand van vullisterreine hê. Dit is wat in Middelburg gebeur het, wat ’n enorme impak sedert 2018 gehad het,” sê Bekker.

AfriForum-takke sal druk op owerhede in hul gebiede toepas om afvalmoniteringskomitees te stig om die afvalbestuursproses te verbeter. Dié komitees behoort te bestaan uit munisipaliteite en belanghebbende partye wat vullisbestuur in die onderskeie dorpe wil verbeter.
Die ouditverslag sal ook aan die Groen Skerpioene oorhandig word vir verdere ondersoek en optrede teen skuldige munisipaliteite. AfriForum sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat vullisterreine op peil gebring word.

Soortgelyke plasings