Machadodorp se noodreservoir leeg weens nalatigheid; AfriForum vergader met DWS

 

Ná vele waarskuwings van AfriForum se Machadodorp-tak aan die Emakhazeni Plaaslike Munisipaliteit en die departement van water en sanitasie (DWS) rakende die stabiliteit van die Eeufeesdamwal, het dié damwal verlede week ineengestort. Dié munisipale dam is in 1994 hoofsaaklik as ’n noodreservoir gebou ná die Elandsrivier opgedroog en die dorp geen water gehad het nie.
Volgens Marcus Pawson, hoof van omgewingsake by AfriForum, het die burgerregte-organisasie reeds met die DWS vergader en sal ’n gesamentlike aksieplan om die situasie te beredder binnekort opgestel word.
Pawson sê voorts dat AfriForum die munisipaliteit versoek het om die bateregister van sy infrastruktuur, infrastruktuurbegroting en bestuursplan aan die organisasie beskikbaar te stel.
Volgens Delon Duvenhage, bestuurslid van die plaaslike AfriForum-tak, is die munisipaliteit verantwoordelik vir grootskaalse watervermorsing – onder meer weens sy versuim om waterlekkasies in Machadodorp en rioollekkasies in Belfast te herstel. Na gelang hiervan het die DWS die Blou Skerpioene gekontak.
Volgens ’n anonieme bron in die munisipaliteit stel die munisipaliteit nie die nodige parte beskikbaar om “maklik herstelbare” waterlekkasies reg te maak nie.

“Na afloop van die droogte wat groot dele van die land die afgelope paar jaar teister, is dit skokkend om te sien hoe die munisipaliteit waterbesparing verontagsaam,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mpumalanga.

Soortgelyke plasings