Mafube Munisipaliteit reageer op AfriForum se versoeke

 

Die Mafube Plaaslike Munisipaliteit het op 28 September 2017 skriftelik gereageer op AfriForum se skrywe aan hulle vroeër dié maand in verband met die vervalle toestand van die dorp Frankfort. Die skrywe dring onder meer daarop aan dat alle rioollekke in die dorp herstel word en dat die munisipaliteit ’n aksieplan aan die publiek bekend maak soos vereis deur artikel 139(5) van die Grondwet.
Intussen is nóg die rioollekke herstel, nóg die aksieplan bekend gemaak. Dieselfde skrywe is aan Mokete Duma, hoof van samewerkende regering en tradisionele sake in die Vrystaat (COGTA), gerig, maar geen reaksie is ontvang nie.
In reaksie op die skrywe het E.M. Notsi, ’n munisipale beampte, egter bevestig dat die munisipaliteit kennis neem van AfriForum se bekommernisse en ingestem tot ’n vergadering op 29 September. Notsi se versoek is egter op baie kort kennis gemaak en AfriForum het daarom versoek dat ’n nuwe datum so gou moontlik vasgestel word. AfriForum wag nog vir ’n reaksie op hierdie versoek.
Intussen is die uitslae van die watertoetsmonsters van die Wilgerivier, wat AfriForum op 13 September gedoen het, baie kommerwekkend. Volgens Midvaal Water Company se voorlopige uitslae bevat die rivier fekale bakterieë wat die aanvaarbare perk oorskry. Onverwerkte riool wat in die rivier instroom, is die waarskynlike oorsaak hiervan. Tog word daar steeds geen poging deur die munisipaliteit aangewend om dít te verhoed nie.

“Dié uitslae bewys net wat ons al lankal weet: Die Wilgerivier word deur onverwerkte riool besoedel en dit kan ’n negatiewe uitwerking op mense se gesondheid en die omgewing hê. Ons sal hierdie uitslae aan die munisipale administrasie voorlê en as daar geen reaksie is nie, sal ons voortgaan om ’n strafregtelike klag teen hulle te lê,” sê Stephen Nel, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Sentraalstreek.

Soortgelyke plasings