|

Makhura se wanoptrede dompel Tshwane-metro in chaos

Die aanstelling van Mpho Nawa as hoofadministrateur van die Tshwane-metro het daartoe gelei dat ’n begroting onregmatig goedgekeur is wat duisende Pretorianers tans hoofbrekings gee.

AfriForum het reeds hofstukke beteken om die besluit oor die begroting ter syde te stel, asook om te eis dat ’n nuwe proses moet begin om ’n nuwe begroting goed te keur.

Morné Mostert, bestuurder van Plaaslikeregeringsake by AfriForum, sê die administrateur se besluit is strydig met die Grondwet. Volgens Mostert wil dit voorkom asof politieke inmenging vanuit die kantoor van David Makhura, premier van Gauteng, vir die huidige chaos in die Metro verantwoordelik is.

“Makhura moes dadelik toegetree het om die situasie reg te stel, maar hy het weens sy politieke bande nie opgetree nie. AfriForum se hofaansoek sal na verwagting op 29 September aangehoor word,” sê Mostert.

Volgens Mostert het die besluite wat die administrateur geneem het nie net ’n finansiële las op die inwoners van die stad geplaas nie. “Verskeie beleide is klaarblyklik ook net deurgevoer, wat tot chaos met dienslewering gelei het. Die Metro het ’n tariewestruktuur vir waterdienste verander wat armes benadeel en verbruikers ontmoedig om water spaarsamig te gebruik.”

Sedert die Metro onder administrasie geplaas is, het verskeie ander probleme in die Metro ontstaan. Duisende inwoners ontvang foutiewe munisipale rekeninge. Vir die afgelope twee weke word inwoners se vullis nie verwyder nie. Vullisterreine is glo gesluit en inwoners word genoop om hul vullis buite dié terreine te stort.

“Makhura versaak sy pligte as premier van Gauteng en gevolglik ly inwoners geweldig onder ’n bestuur wat totaal in duie gestort het,” sê Mostert.

Deidré du Preez, ’n koördineerder by AfriForum se gemeenskapsakeafdeling, sê inwoners moet hulself probeer beskerm teen astronomiese foutiewe rekeninge deur ’n dispuut met die Metro te verklaar. Wanneer ’n dispuut verklaar word, mag die Metro nie voortgaan om mense se krag af te sny nie en ook nie van ander invorderingsmeganismes gebruik maak totdat dié dispuut uitgeklaar is nie.

Inwoners kan ’n dispuutvorm by www.afriforum.co.za/tshwane-metro/ aflaai, voltooi en aan disputes@tshwane.gov.za of customercare@tshwane.gov.za e-pos.

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir Gemeenskapsake by AfriForum, sê dit is verregaande dat Makhura al sy aandag en fokus op die Tshwane-metro plaas terwyl die Merafong- en Emfuleni-munisipaliteite in ’n baie swakker toestand is en erge korrupsie daar seëvier.

Soortgelyke plasings