Is Malema besig om die hof ’n rat voor die oë te draai?


AfriForum en AfriSake se regspan het die registrateur van die Konstitusionele Hof versoek om te bevestig of Julius Malema, leier van die EFF, enige hofdokumente ingedien het in verband met sy beweerde aansoek om die Wet op Oproerige Byeenkomste, 1956 (wetno 17 van 1956) ongeldig en ongrondwetlik te laat verklaar. Die registrateur het intussen aan beide partye bevestig dat nóg Malema, nóg die EFF enige aansoek in dié verband ingedien het nie. 
Dit volg ná Malema weens ’n oortreding van dié wet in die Bloemfonteinse landdroshof  verskyn het. Malema se onderneming om die aansoek te bring, het daartoe gelei dat sy verhoor in die landdroshof tot 27 Oktober 2017 uitgestel is, hangende die Konstitusionele Hof se uitspraak in dié verband.
Die vraag wat nou ontstaan, is of Malema eenvoudig vir tyd speel om homself te kan verdedig ná hy ondersteuners in 2014 opgesweep het om land onwettig te beset, en of hy die hof doelbewus om die bos lei. Hoe dit ook al sy – dit is hoogs onwaarskynlik dat die aansoek oor die ongrondwetlikheid in Julie aangehoor en uitspraak teen September gelewer sal word, soos die media berig.

“Dit is kommerwekkend dat ’n politikus wat uitlatings in ’n hof maak wat alle strafregtelike prosesse teen hom tot stilstand bring, nie met dié onderneming voortgaan wat hy aan die hof voorgelê het nie. Sou hy nie die aansoek by die Konstitusionele Hof indien nie, mag die landdroshof sy gedrag as minagting van die hof beskou – wat hom in groter moeilikheid sal laat beland,” sê Armand Greyling, regs- en beleidsanalis by AfriSake.

Dit is sowel AfriSake as AfriForum se voorneme om enige aansoek wat Malema mag bring om die Wet op Oproerige Byeenkomste, 1956 ongrondwetlik te laat verklaar, teen te staan omdat daar geen verstaanbare rede bestaan om enigiemand te verskoon wat die publiek aanhits om geweldsmisdade of enige ander strafregtelike dade te pleeg sonder dat dié persoon tot verantwoording geroep word nie.

Soortgelyke plasings