Malema en die EFF moet opdok


AfriSake en AfriForum het vandag in die Noord-Gautengse hoë hof daarin geslaag om ’n bestraffende kostebevel, insluitend die koste vir twee advokate, teen die EFF en sy leier Julius Malema te bekom.
Die twee organisasies het in Maart 2017 daarin geslaag om ’n interim interdik wat die EFF en Malema verbied om die publiek aan te hits om onwettig grond te gryp of te betree, teen hulle te bekom. Dít is ongelukkig op ys gesit as gevolg van die EFF en Malema se tersydestellingsaansoek in ’n laaste poging om die interdik tersyde te laat stel. Die EFF en Malema het probeer om vertragingstaktieke te gebruik deur hul hoofde van betoog laat te liasseer, maar die regter was nie tevrede met die redes vir die vertragings nie en het ’n kostebevel ten gunste van AfriSake en AfriForum gemaak. Die saak is onbepaald uitgestel en sal op die volgende beskikbare hofdatum op die rol geplaas word.

“Die EFF en Malema het geweet hulle is in die moeilikheid en het geen regverdigbare verweer gehad oor waarom ons aansoek tersyde gestel moet word nie. Hulle pogings is niks meer as ’n vertragingstaktiek nie en ons is tevrede dat die hof daardeur gesien het,” sê Armand Greyling, regs- en beleidsanalis by AfriSake.
“Ons sal poog om so gou as moontlik ’n nuwe hofdatum te bekom sodat die saak aangehoor kan word. Ons moet die interdik teen Malema en die EFF, insluitend sy lede, finaliseer sodat hulle verbied word om die publiek aan te hits en mense op te roep om grond onwettig te gryp en te betree. Sou hulle nie aan die bepalings van die interdik voldoen nie, sal AfriSake en AfriForum verrigtinge vir minagting van die hofbevel instel, wat tot ’n boete of gevangenisstraf of beide vir die politieke leier of lede van sy party kan lei,” sê Hein Gonzales, AfriForum se bestuurder van risiko- en ondersteuningsdienste.

Die EFF en Malema het probeer om die saak buite die hof uit te stel, maar AfriSake en AfriForum het dit duidelik gemaak dat hulle nie sal instem tot enige uitstel nie, aangesien die politieke party en sy leier meer as genoeg tyd gehad het om vir die verhoor voor te berei en die regter het saamgestem dat dit wel die geval was.

“Dit sou nie in die belang van geregtigheid, of regverdigbaar, gewees het om tot dié uitstel in te stem nie, aangesien die EFF en Malema aanhou om mense op te roep om grond te gryp en te betree. Hoewel die finale geveg nog nie gewen is nie, is ons vol vertroue dat ons ons huiswerk deeglik gedoen het en dat die finale interdik teen die EFF en Malema toegestaan sal word,” sê Greyling verder.
“Ons is trots daarop dat ons in die posisie is om vir geregtigheid en die beskerming van eiendomsreg in Suid-Afrika te kan veg. Mag hierdie oorwinning ’n baken van hoop vir grondeienaars en ’n waarskuwing aan instellings wat die oppergesag van die reg en die soewereiniteit van die Grondwet bedreig, wees. Malema en die EFF sê dat hulle ekonomiese vryheid wil hê, maar hulle optrede sal slegs armoede en wetteloosheid tot gevolg hê. Met elke insident van aanhitsing en die leidende rol wat hulle in onwettige grondgrype speel, ondermyn hulle die vooruitsig van ekonomiese vooruitgang vir die samelewing in die geheel. AfriSake en sy vennote het reeds en sal aanhou om in hul pad te staan,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van AfriSake.

Soortgelyke plasings