Malema en EFF betaal ’n verdere R108 960 aan AfriForum vir regskostes


Julius Malema en die EFF het die afgelope week vir die tweede keer in twee maande ’n betaling van meer as R100 000 aan die burgerregte-organisasie AfriForum gemaak, om twee van die vyf kostebevele te delg wat AfriForum in die howe teen hulle bekom het. Die afgelope week (10 Januarie) se betaling beloop ’n bedrag van R108 960,79. Die bedrag wat AfriForum op 13 November 2018 van Malema en die EFF ontvang het, was R126 703,59.
AfriForum het die vyf kostebevele in vyf verskillende hofverskynings sedert Maart 2017 in die Noord-Gautengse hoë hof teen Malema en die EFF bekom. Na raming beloop die gesamentlike verskuldigde bedrag vir die vyf kostebevele sowat R550 000. Ná die EFF en Malema reeds in totaal meer as R235 000 aan AfriForum betaal het, beloop die verskuldigde bedrag na raming sowat R315 000. Die uitstaande drie kostebevele gaan volgens AfriForum eers later verhaal word, aangesien twee daarvan nog getakseer moet word en een onderhewig is aan ’n appèlaansoek wat deur Malema en die EFF gebring is. Weens die twee betalings wat AfriForum reeds van Malema en die EFF ontvang het, sal AfriForum nie voortgaan om die EFF se bates – waarop die balju reeds beslag gelê het – op ’n veiling te verkoop voordat die regsprosesse oor die drie uitstaande kostebevele afgehandel is nie.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, verwelkom die verdere betaling wat Malema en die EFF aan AfriForum gemaak het. “AfriForum gaan Malema en die EFF se betalings aanwend om pogings om die land se Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, in die howe te beveg,” voeg Kriel by.

Die betrokke vyf kostebevele spruit voort uit ’n hofgeding wat AfriForum verlede jaar teen Malema en die EFF aanhangig gemaak het om ’n interdik te bekom om hulle te verbied om mense aan te hits om grond onwettig te beset of betree. Die Noord-Gautengse hoë hof het op 7 Maart 2017 in AfriForum se guns beslis en die interdik met koste toegestaan. Malema en die EFF het daarna ’n tersydestellingsaansoek teen die interdik gebring, wat op 12 September 2017 aangehoor sou word. Die hof moes die saak egter uitstel nadat Malema en die EFF se hoofde van betoog in hul eie saak laat ingedien is. Die regter het gevolglik ’n bestraffende kostebevel teen Malema en die EFF uitgereik. Met die hervatting van dié saak op 18 Februarie 2018 het Malema en die EFF se regsverteenwoordigers nie opgedaag nie en is die saak in AfriForum se guns beslis, met die afwysing van die tersydestellingsaansoek, en ’n verdere kostebevel is teen Malema en die EFF uitgereik.
Die ander twee kostebevele is beide op 14 November 2018 in twee afsonderlike sake in die Noord-Gautengse hoë hof in AfriForum se guns teen Malema en die EFF uitgereik. Die eerste bevel was in ’n saak van minagting van die hof, wat AfriForum teen Malema en die EFF aanhangig gemaak het. Dit volg nadat Malema en die EFF voortgegaan het om grondgrype aan te moedig, ondanks ’n staande interdik wat AfriForum bekom het om hulle te verbied om mense aan te hits om grond te beset. Die EFF en Malema se regspan het nie betyds hul betoogshoofde ingedien nie, wat beteken dat die saak later aangehoor sal moet word. Daarmee het die EFF en Malema hulself nóg ‘n kostebevel op die hals gehaal. In die ander saak het die EFF en Malema probeer om ’n dringende hofbevel te bekom om te verhoed dat AfriForum die EFF se eiendom verwyder en op ’n veiling verkoop om regskostes te verhaal. Die hof het beslis dat die EFF en Malema se saak nie dringend was nie en het ’n verdere kostebevel teen Malema en die EFF gegee.
Die betalings wat Malema en die EFF die afgelope week en op 13 November aan AfriForum gemaak het, was dus om die kostebevele te delg wat onderskeidelik op 12 September 2017 en 18 Februarie 2018 uitgereik is. Malema en die EFF appelleer tans teen die interdik wat AfriForum op 7 Maart 2017 teen hulle bekom het, terwyl 14 November 2018 se twee kostebevele nog getakseer moet word.

Soortgelyke plasings