|

Malema en Ndlozi se aanrandingsaak begin in Oktober

Deur Alet Rademeyer

Julius Malema, omstrede leier van die EFF, en Mbuyiseni Ndlozi, woordvoerder van die EFF, se verhoor van hul aanrandingsaak begin op 13 Oktober in die Randburgse Landdroshof.

Malema en Ndlozi word ná volgehoue druk deur AfriForum deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) vervolg vir die beweerde aanranding van ’n SAPD-kolonel.

Dít volg nadat AfriForum in Julie 2019 aangekondig het dat hy die hof met ’n mandamus-aansoek gaan nader om die NVG te verplig om ’n besluit oor die vervolging van Malema en Ndlozi in dié saak te neem.

Beide Malema en Ndlozi moet egter ook op 14 September in die hof verskyn sodat ’n ondersoek rakende die opskorting van die lasbriewe voor die hof kan dien omdat hulle nie vorige hofverrigtinge bygewoon het nie weens COVID-19-regulasies. Die aanklaer het ook aangedui dat die oorspronklike klagstaat nie tans opgespoor kan word nie wat beteken dat die lasbrief vir arrestasie nie vandag uitgevoer kon word nie.

Malema en Ndlozi het in April 2018 na bewering by die begrafnis van Winnie Mandela ’n senior polisieman in uniform aangerand in ’n voorval wat op kringtelevisiekameras vasgevang is. Die senior polisieman het ’n klag by die SAPD aanhangig gemaak, maar dit het geen aandag geniet nie, totdat AfriForum se Privaatvervolgingseenheid in Januarie 2019 oor die ondersoek navraag gedoen het.

Adv. Phyllis Vorster, aanklaer by die Privaatvervolgingseenheid, sê AfriForum verwelkom die vasstelling van ’n verhoordatum. Daar is uit die staanspoor geglo dat daar ’n prima facie-saak teen Malema en Ndlozi is. “Die NVG het na aanleiding van volgehoue druk deur AfriForum herbesin oor hul aanvanklike weiering om te vervolg en wel vervolging ingestel. Nou moet die gereg sy gang gaan en ons sal voortgaan om die polisiekolonel te ondersteun.”

Malema se regspan het die saak ook vroeër vertraag en om uitstel gevra omdat hulle meer tyd wou hê om die videomateriaal oor die beweerde aanranding te bestudeer en met getuies wou konsulteer.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het vroeër gesê Malema en Ndlozi kan probeer om geregtigheid te vertraag, maar hulle sal dit nie kan bly ontwyk nie.

Soortgelyke plasings