|

Malema en Ndlozi se aanrandingsverhoor begin

Julius Malema, leier van die EFF, en Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, het ná volgehoue druk deur AfriForum vandag in die Randburgse Landdroshof verskyn vir die beweerde aanranding van ’n SAPD-kolonel. Die saak sal môre, 29 Oktober 2020, verder aangehoor word.

Dít volg nadat AfriForum in Julie 2019 aangekondig het dat die organisasie die hof met ’n mandamus-aansoek gaan nader om die NVG te verplig om besluite te neem oor die vervolging van Malema rakende hierdie en twee ander hangende sake teen hom.

Malema en Ndlozi het na bewering in April 2018 ’n senior polisieman in uniform aangerand tydens ’n voorval wat op kringtelevisiekameras vasgevang is. Die senior polisieman het ’n klag by die polisie aanhangig gemaak, maar dit het geen aandag van die polisiegeniet nie totdat AfriForum se privaatvervolgingseenheid in Januarie 2019 navraag oor die ondersoek gedoen het.

Johannes Venter, die SAPD-kolonel wat na bewering aangerand is, het gedurende vandag se hofverrigtinge getuig. Hy het onder eed verklaar dat hy vir die beskuldigdes gesê het dat hul in die begraafplaas in kan loop, maar nie kan inry nie want die voertuig is nie deel van die konvooi wat goedgekeur is nie. Hy het verder verklaar dat Malema vir hom gesê het dat hy nie sal inloop nie maar sal inry en geen wit man sal hom stop nie. Venter het verklaar dat by besig was om die begraafplaas se bedryfsentrum te skakel om die nodige magtiging te verkry vir hulle om in te ry, toe Malema en Ndlozi uit die motor gespring en hom herhaaldelik gestamp het. Hy het verklaar dat hulle toe in die begraafplaas ingery het sonder dat hy of sy hoof die nodige magtiging gegee het.

“AfriForum en sy privaatvervolgingseenheid sal voortgaan om die saak in belang van geregtigheid te moniteer. Niemand is verhewe bo die reg nie en AfriForum verwelkom die feit dat Malema uiteindelik sy dag in die hof gekry het. Malema het gedink hy is onaantasbaar, maar te danke aan die druk wat AfriForum op die NVG uitgeoefen het, moet hy uiteindelik verantwoording doen,” sê Monique Taute, hoof van Veldtogte by AfriForum.

Soortgelyke plasings