| |

MALEMA EN NDLOZI SE AANRANDINGSVERHOOR GAAN MÔRE VOORT

Julius Malema, leier van die EFF, en Mbuyiseni Ndlozi, EFF-LP, het vandag in die Randburgse Landdroshof verskyn vir die beweerde aanranding van Johannes Venter, ’n SAPD-kolonel.

AfriForum het in Julie 2019 aangekondig dat dié organisasie die hof met ’n mandamus-aansoek gaan nader om die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) te dwing om ’n besluit te neem oor die vervolging van Malema in hierdie en twee ander hangende sake teen hom.

Malema en Ndlozi het Venter na bewering in April 2018 aangerand tydens ’n voorval wat op kringtelevisiekameras vasgevang is. Die senior polisieman het ’n klag by die polisie aanhangig gemaak, maar die polisie het geen aandag daaraan geskenk nie totdat AfriForum se privaatvervolgingseenheid in Januarie 2019 navraag oor die ondersoek gedoen het.

Deon Klingbiel, ’n voormalige werknemer van die begraafplaas waar die voorval plaasgevind het, het vandag getuig oor hoe die kringtelevisiemateriaal bewaar is. Klingbiel het ook getuig dat hy die beeldmateriaal meer as een maal aan die polisie moes verskaf omdat die saakdossier glo verdwyn het.

Kol. James Bronkhorst, ’n polisiebeampte wat by die polisie se interne ondersoek na die voorval betrokke was, het ook vandag getuig dat Venter volgens hom die situasie korrek hanteer het deur Malema se motor voor te keer om toe te sien dat die nodige veiligheidsmaatreëls tydens die begrafnis van Winnie Madikizela-Mandela toegepas word. Malema beweer dat Venter hom probeer verhoed het om dié begrafnis by te woon.

“Ons sien gereeld hoe sekere politici soos Malema hulself as verhewe bo die reg beskou. Dit kan nie geduld word nie. Wat ook uiters kommerwekkend is, is dat die saak geen aandag geniet het voordat AfriForum se privaatvervolgingseenheid daarby betrokke geraak het nie,” sê Ernst Roets, AfriForum se hoof van Beleid en Aksie.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid sal voortgaan om die saak in belang van geregtigheid te moniteer. Die saak sal more (10 Maart 2021) verder aangehoor word.

Soortgelyke plasings