|

Malema en Ndlozi se aanrandingsverhoor weereens uitgestel

Die verhoor van Julius Malema, leier van die EFF, en Mbuyiseni Ndlozi, EFF-LP, is vandag weereens uitgestel in die Randburgse Landdroshof. Die twee word aangekla vir die beweerde aanranding van ’n SAPD-kolonel, Johannes Venter.

Die uitstel kom ná een van die beskuldigdes se regsverteenwoordiger glo in kontak was met iemand wat Covid-19 positief is. Die regsverteenwoordiger het glo negatief getoets vir Covid-19 maar het intussen simptome ontwikkel.

Met die vorige geskeduleerde hofverskyning, is die saak ook op ’n vreemde wyse uitgestel, sonder dat die beskuldigdes eers in die hof verskyn het. Die hof het ook vroeër gehoor dat daar met van die bewysstukke in die saak gepeuter is.

“Dit is onverstaanbaar hoe die saak uitgestel kan word as die regsverteenwoordiger dan reeds negatief getoets het vir Covid-19. Dit is nou die soveelste vreemde wending in hierdie saak. Mens kan nie help om die indruk te kry dat Malema en Ndlozi voorkeur behandeling kry nie,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogtebestuurder.

“Dit is betreurenswaardig dat die saak so vêr uitgestel is, selfs al is dit onduidelik of die regsverteenwoordiger wel Covid-19 onder lede het of nie. Sou die uitslag negatief wees kon die saak mos môre voortgegaan het,” sê Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Die saak is uitgestel tot 7 April 2022.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid sal aanhou om die saak te monitor.

Soortgelyke plasings