|

Malema en Ndlozi se verhoor begin nou einde Oktober

Die verhoor van Julius Malema, EFF-leier, en Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder – elk op ’n aanklag van aanranding – sou vandag in die Randburgse Landdroshof begin het. Dié hof het egter gelas dat die media vandag se hofverrigtinge nie regstreeks mag uitsaai nie en dat aansoeke tot dié effek eers gebring moet word. Die saak is dus weer eens tot 28 en 29 Oktober 2020 uitgestel. AfriForum en 16 ander applikante het vandag aansoeke gebring om op dié dae oor hofverrigtinge te berig.

Malema en Ndlozi word ná volgehoue druk deur AfriForum deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) vervolg vir die beweerde aanranding van ’n SAPD-kolonel. Die voorval is op kringtelevisiekameras vasgevang. Dit volg nadat AfriForum in Julie 2019 aangekondig het dat die organisasie die hof met ’n mandamus-aansoek gaan nader om die NVG te verplig om ’n besluit oor die vervolging van Malema en Ndlozi te neem. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ook ’n waaksaamheidsopdrag in die saak en ondersteun die klaer en getuies om op die verhoor voor te berei.

Malema het die media vandag toegespreek en onder meer gesê dat die “wit man” sy getuienis ook op kamera moet lewer as hy (Malema) dit moet doen, asook “swart mense wat swart lyk, maar eintlik wit is van binne”. Daar was ook talle EFF-ondersteuners wat buite die hof betoog het.

“AfriForum wil toesien dat geregtigheid geskied en ons is van mening dat die saak wel vandag kon voortgaan. Deursigtigheid is egter vir ons belangrik en daarom ondersteun ons die feit dat die media vandag hier was en aansoeke gebring het om verslag oor toekomstige verrigtinge te doen. AfriForum en sy privaatvervolgingseenheid sal steeds voortgaan om die saak in belang van geregtigheid te moniteer,” sê Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum.

Soortgelyke plasings