|

Malema kryt AfriForum uit ná aankondiging van privaat vervolging teen hom

Kort nadat adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid, en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum vanoggend aangekondig het dat Julius Malema en sy medebeskuldigdes privaat vir bedrog en tenderkorrupsie vervolg gaan word, het Malema die organisasie op Twitter as rassiste uitgekryt.

Die beoogde vervolging teen Malema hou verband met beweerde korrupte bedrywighede van die maatskappy On-Point Engineering in Limpopo waarby hy en ander betrokke was. Malema sal privaat vervolg word indien die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nie toegee aan AfriForum se eis dat die saak teen Malema, heringestel word nie.

Malema het in sy tirade gesê: “Bring it on bloody racists, you don’t scare me at all. I’m born ready! No white man will decide my destiny, the poor masses of the people will…”

Nel en Kriel het in reaksie hierop gesê geen mens, ook nie Malema nie, is bo die reg verhewe. “Enigiemand wat geld van die staat of van belastingbetalers steel, moet vervolg en tot verantwoording geroep word.”

On-Point, waarby Malema se familietrust ’n belang het, was aangestel om die Limpopo departement van paaie en vervoer in 2009 met infrastruktuurontwikkeling,  -onderhoud en -beplanning te ondersteun en het omkoopgeld ontvang van suksesvolle tenderaars wat vir die doel aangestel is.

AfriForum het reeds op 24 Julie 2011 in terme van die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Bedrywighede, 2004 (Wet no. 12 van 2004) ’n saak in verband met On-Point se korrupte bedrywighede teen Malema by die Brooklyn-polisiestasie in Pretoria ingedien. Nadat die Valke die klag ondersoek en bewyse van korrupsie gevind het, het die NVG begin om Malema te vervolg. Die saak teen Malema is egter op 4 Augustus 2015 van die rol in die hoë hof in Polokwane (Pietersburg) geskrap, nadat een van Malema se medebeskuldigdes weens siekte nie die verhoor kon bywoon nie. Die NVG het versuim om die saak weer op die rol te plaas gedurende die twee jaar en agt maande wat sedertdien verloop het. Dit het intussen aan die lig gekom dat die beskuldigde, ene mnr. Ditshabe, perdfris en gesond is en selfs duur voertuie aangeskaf het.

Weens die NVG se versuim om verder op te tree, het AfriForum op 19 Maart 2018 ’n skrywe aan die NVG gestuur waarin die saak se herinstelling geëis word. Die NVG het AfriForum in reaksie hierop skriftelik ingelig dat die herinstelling van die klagtes teen Malema tans oorweeg word en dat ’n finale besluit teen Augustus 2018 geneem sal word. Volgens adv. Nel sal AfriForum Malema privaat vervolg, sou die NVG besluit om dié saak teen Malema en sy medebeskuldigdes nie weer in te stel nie.

Nel meen dit is onaanvaarbaar dat die NVG meer as 30 maande laat verloop het sonder om die korrupsiesaak teen Malema verder te voer. “AfriForum se privaat vervolgingseenheid is juis gestig om te help toesien dat gelykheid voor die reg geskied en dat die NVG sy werk doeltreffend doen. Die NVG het sy plig versuim deur die saak teen Malema te laat sloer.”

Kriel sê al dink Malema skynbaar hy is onaantasbaar, is hy beslis nie bo die reg verhewe nie. “AfriForum sal toesien dat Malema tot verantwoording geroep word. Iemand soos hy wat voorgee dat hy die armes verteenwoordig en dan die staatskas plunder om homself te verryk ten koste van dienslewering aan arm mense, moet ontbloot word vir wie en wat hy is.”

 

Kriel wys daarop dat AfriForum benewens dié korrupsiesaak tans ook met twee ander sake teen Malema besig is. AfriForum tref tans in samewerking met AfriSake voorbereidings vir ’n saak van minagting van die hof teen Malema. Dit volg nadat ’n hofbevel gedurende 2017 teen Malema bekom is om hom te verbied om mense aan te hits om grond te beset. Met sy jongste uitsprake oortree Malema egter dié hofbevel en maak hy homself sodoende skuldig aan minagting van die hof. Die ander saak teen Malema is die klag van aanhitsing om misdaad te pleeg, wat deur AfriForum ingedien is en in die Bloemfonteinse streekhof aangehoor word.

In dié saak het Malema vroeër vandeesmaand vlugtig in die landdroshof in die stad verskyn op aanklag van oortreding van die Wet op Oproerige Byeenkomste van 1956. Die aanklag spruit uit ’n voorval in 2014 toe hy EFF-lede tydens ’n verkiesingskonferensie aangemoedig het om grond onwettig te beset.

Die verhoor is tot 27 Julie uitgestel hangende ’n uitspraak van die Noord-Gautengse hoë hof in Pretoria oor die grondwetlikheid van die aanklagte teen hom. Sy regspan betwis die Wet op Oproerige Byeenkomste. Die EFF beskuldig die staat dat hy wette uit die apartheidsera gebruik om kritici stil te maak.

Malema het ook vroeër in Newcastle se landdroshof verskyn op aanklagte van aanhitsing tot geweld. Dié saak is tot 25 Junie uitgestel.

Ondanks die hofsake teen Malema gaan hy onverpoosd voort om mense aan te moedig om grond onwettig te beset. Hy sê gereeld aan sy ondersteuners dat hulle alle reg het om grond te beset omdat wit mense dit gesteel het. Malema het vroeër vanjaar ’n sleutelrol gespeel waar die mosie oor grondonteiening sonder vergoeding in die parlement deur die meerderheid aanvaar is.

Sedertdien woed fel gesprekke en debatte oor die fatale implikasies wat onteiening sonder vergoeding vir eiendomsreg en die ekonomie in Suid-Afrika sal inhou.

Die parlementêre grondwetlike hersieningskommissie ondersoek tans artikel 25 van die Grondwet en ander tersaaklike klousules om te betaal of onteiening sonder vergoeding moontlik sal wees. Die komitee se bevindings moet voor 30 Augustus aan die nasionale vergadering voorgehou word.

Malema is ook vandag in die kollig ná bewerings van ’n moordplan teen hom. Die EFF het bekendgemaak dat hy sy veiligheidsmaatreëls verskerp het nadat die party inligting gekry het oor sluipmoordplanne teen hul leier. ’n Groep “politiek onveilige en waansinnige individue” van Noordwes het glo dwelmhandelaars en sluipmoordenaars in verskeie provinsies genader om Malema te vermoor.

 

Soortgelyke plasings