|

Malema, Ndlozi se verhoor begin in Oktober

Die Randburgse Landdroshof het vandag die verhoordatum van Julius Malema, leier van die EFF, en Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, vir 13 en 28 Oktober 2020 vasgestel. Ná volgehoue druk deur AfriForum word Malema en Ndlozi deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) vervolg vir die beweerde aanranding van ’n SAPD-kolonel.

Dít volg nadat AfriForum in Julie 2019 aangekondig het dat dit die hof met ’n mandamus-aansoek gaan nader om die NVG te verplig om ’n besluit oor die vervolging van Malema en Ndlozi in dié saak te neem.

Beide Malema en Ndlozi moet egter ook op 14 September in die hof verskyn sodat ’n ondersoek rakende die opskorting van die lasbriewe voor die hof kan dien omdat hulle nie vorige hofverrigtinge bygewoon het nie weens Covid-19-regulasies. Die aanklaer het ook aangedui dat die oorspronklike klagstaat nie op hierdie stadium opgespoor kan word nie wat beteken dat die lasbrief vir arrestasie nie vandag uitgevoer kon word nie.

Malema en Ndlozi het in April 2018 na bewering by die begrafnis van Winnie Mandela ’n senior polisieman in uniform aangerand in ’n voorval wat op kringtelevisiekameras vasgevang is. Die senior polisieman het ’n klag by die SAPD aanhangig gemaak, maar dit het geen aandag geniet nie, totdat AfriForum se privaatvervolgingseenheid in Januarie 2019 oor die ondersoek navraag gedoen het.

“AfriForum verwelkom die vasstelling van ’n verhoordatum, aangesien ons van meet af aan gedink het dat daar ’n prima facie-saak teen Malema en Ndlozi is. Die NVG het na aanleiding van volgehoue druk deur AfriForum herbesin oor hul aanvanklike weiering om te vervolg en wel vervolging ingestel. Nou moet die gereg sy gang gaan en ons sal voortgaan om die polisiekolonel te ondersteun,” sê adv. Phyllis Vorster, aanklaer by die Privaatvervolgingseenheid.

Soortgelyke plasings