|

Malema se regspan vra vir nóg tyd in aanrandingsaak

 

Julius Malema, leier van die EFF en Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, se regspan het vandag in die landdroshof in Randburg uitstel gevra in die aanrandingsaak waarop hulle verskyn het.

Volgens die regspan het hulle meer tyd nodig om die videomateriaal oor die beweerde aanranding te bestudeer en om met getuies te konsulteer.

Malema en Ndlozi, albei geklee in wit, was nie soos voorheen luidrugtig en aanvallend buite die hof nie.

Die saak is tot 23 en 24 Junie uitgestel hoewel die landdros vroeër dit duidelik gemaak het dat alle prosesse, gesprekke, uitruil van dokumente en regsverteenwoordiging teen vandag finaal afgehandel moet wees.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê Malema en Ndlozi kan probeer om geregtigheid te vertraag, maar hulle sal dit nie kan bly ontwyk nie.

“Dit is in belang van ons kliënt dat Malema skuldig bevind word. Die voorval het reeds in 2018 plaasgevind, maar ons is oortuig dat daar ’n sterk saak teen hulle is. Dit is belangrik dat hulle soos enigiemand anders tot verantwoording geroep word as hulle die wet oortree.”

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het AfriForum vroeër in kennis gestel dat hulle Malema en Ndlozi gaan vervolg vir die beweerde aanranding van ’n senior polisielid.

Dít het gevolg nadat AfriForum in Julie verlede jaar aangekondig het dat hulle die hof gaan nader met ’n mandamus-aansoek om die NVG te verplig om besluite te neem oor die vervolging van Malema rakende hierdie en twee ander hangende sake teen hom.

Malema en Ndlozi het in April 2018 glo ’n senior polisieman in uniform aangerand by die begrafnis van Winnie Madikisela-Mandela. Die voorval is op kringtelevisiekameras vasgevang. Die senior polisieman het ’n klag by die polisie aanhangig gemaak, maar dit het geen polisie-aandag geniet totdat AfriForum se privaatvervolgingseenheid in Januarie 2019 navraag oor die ondersoek gedoen het nie.

Die landdros het Malema en Ndlozi gewaarsku dat ’n lasbrief vir hul inhegtenisneming uitgereik sal word indien hulle versuim om in die hof te verskyn.

Soortgelyke plasings