Malema se roekelose skietvoorval landwyd nagedoen


Nadat Julius Malema verlede jaar by die EFF se vyfjaarfeesvieringe ’n voorwerp afgevuur het wat soos ’n aanvalsgeweer lyk, het AfriForum se waarskuwing op dowe ore geval dat hierdie roekelose optrede ’n gevaarlike presedent kan skep indien die SAPD en nasionale vervolgingsgesag (NVG) nie dringend teen hom optree nie. Die tendens om vuurwapens in die lug af te vuur, het posgevat – ongeag ander burgers se veiligheid.

Die eienaar van ’n sekuriteitsmaatskappy – met bande met die plaaslike munisipaliteit in Dundee, KwaZulu-Natal – en sy medepligtiges het in middel Maart 2019 verskeie skote afgevuur met voorwerpe wat soos vuurwapens lyk. Hierdie voorval het in ’n residensiële gebied plaasgevind.
In nóg ’n voorval op 20 Maart 2019 in Emzinoni naby Bethal, Mpumalanga, het ’n persoon in ’n MK-veterane-uniform ’n voorwerp afgevuur wat soos ’n handwapen lyk. Hy was agter op ’n trok wat aan die Govan Mbeki-munisipaliteit behoort. Dit het ten aanskoue van verskeie lede van die Mpumalanga-verkeerspolisie gebeur – boonop óók in ’n openbare gebied – en sonder dat die veiligheid van die burgerlikes in die onmiddellike omgewing in ag geneem is.
Verskeie mense het ook op 27 Maart 2019 in Bedfordview – in die teenwoordigheid van die Johannesburgse Metropolisie – verskeie skote met ’n aantal vuurwapens in die lug afgevuur. Die owerheid het bevestig dat dit tans besig is om bewysstukke in te samel om die aangeleentheid te ondersoek. AfriForum moniteer dié ondersoek.
AfriForum het kort ná die EFF se feesvieringe strafregtelike klagtes teen Malema aanhangig gemaak. Die dossier dien tans voor die NVG om te verseker dat die dossier volledig en verhoorgereed is. AfriForum ontvang gereeld terugvoer in dié verband.
AfriForum het ook aksie geneem na aanleiding van die ander gevalle. Die sekuriteitsmaatskappy-eienaar is by die Reguleringsgesag vir die Privaat Sekuriteitsbedryf (PSiRA) verkla en AfriForum hou die verloop van die ondersoek met ’n valkoog dop. Die beweerde MK-veteraan se optrede in Emzinoni is na die direkteur-generaal van, gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling van die Mpumalanga Provinsiale Regering verwys. Sowel die laasgemelde as die Emzinoni-polisiekantoor het beweer dat hulle geen kennis van die aangeleentheid dra nie, en AfriForum het alle inligting aan hulle verskaf. Daar is onderneem om aandag aan die saak te gee en ondersoek in te stel. AfriForum sal gereeld opvolg om seker te maak dat dié onderneming gestand gedoen word.

“Malema het ’n uiters onrusbarende voorbeeld deur sy roekelose optrede gestel. Sy aksies, wat nou landwyd nagedoen word, bedreig openbare veiligheid en ondermyn huidige wapenwetgewing,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid.
“Die feit dat politici, wat boonop verkiesingskandidate is en in die parlement dien, hierdie swak voorbeeld stel en ’n vlaag van soortgelyke handelinge tot gevolg het, dui op die erns van die saak. AfriForum hanteer dit met die dringende aandag wat dit verdien,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

AfriForum sal enige ander soortgelyke gevalle wat mag opduik onmiddellik hanteer om die huidige tendens in die kiem te smoor.

Soortgelyke plasings