Malema se “skiet om dood te skiet” moet ondersoek word


AfriForum het lt.genl. Sithole, die SAPD se registrateur en ook die nasionale kommissaris van polisie, versoek om ’n ondersoek na Malema se gedrag te loods en te bepaal of hy bevoeg is om oor ’n vuurwapen te beskik, al dan nie.

Ingevolge artikel 102 van die Wet op die Beheer van Vuurwapens, 2000 (wet no. 60 van 2000), kan ’n persoon ná ’n ondersoek deur die registrateur, wel onbevoeg verklaar word om ’n vuurwapen te besit. Dít gebeur as die persoon onder meer aangedui het dat hy/sy van voorneme is om hom-/haarself of iemand anders met ’n vuurwapen of ander gevaarlike wapen te dood, en/of vanweë die persoon se neiging tot geweld, wat beteken dat dit in niemand se belang is dat hy/sy ’n vuurwapen besit nie.
AfriForum het verskeie verklarings bekom wat op Julius Malema se gewelddadige aard dui. Tesame met sy uitlating dat hy “sal skiet om dood te skiet as dit by sy familie kom”, regverdig dit ’n ondersoek deur die registrateur, soos hierbo aangedui.
Blykbaar het Malema in die afgelope paar jaar gereeld met die gereg gebots en is verskeie klagtes hieroor teen hom gelê. Verskeie lede van die publiek het ook al aangedui dat Malema hulle aangerand het. Voorts word daar beweer dat Malema homself op verskeie geleenthede aan oortredings van die Wet op die Beheer van Vuurwapens skuldig gemaak het.

“AfriForum kan nie toelaat dat Malema se onverantwoordelike en roekelose gedrag ongesiens verbygaan nie. ’n Vuurwapen in die besit van ’n persoon wat op dié wyse met sy medemens omgaan, verydel die Wet op die Beheer van Vuurwapens en berokken skade aan die beeld van alle regmatige vuurwapeneienaars” sê Marnus Kamfer, regs-en-risikobestuurder van AfriForum se gemeenskapsveiligheidafdeling.
“Die registrateur behoort Malema, as leier van ’n politieke party, feller te oordeel vanweë sy posisie en die invloed wat hy op sy ondersteuners het. AfriForum sal die verloop van die ondersoek met belangstelling dophou,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

AfriForum het vroeër vanjaar ’n klag teen die leier van die EFF aanhangig gemaak nadat hy by die EFF se vyfdebestaansjaarfeesvieringe ’n voorwerp afgevuur het wat soos ’n aanvalsgeweer gelyk het. Volgens die SAPD se Mdantsane-kantoor is die klagte sedertdien na die NVG vir oorweging verwys en kan Malema se onlangse uitlatings hom dus duur te staan kom.

Soortgelyke plasings