|

Malema sê versoening met wittes sal nooit gebeur nie

Julius Malema, leier van die EFF, het in die laaste dag van sy getuienis in die haatspraak-saak teen hom en sy party in die hooggeregshof in Johannesburg aangevoer daar sal nooit versoening met wit mense wees en dat hulle dieselfde is as die wit setlaars en kolonialiste van 1652.

Hy het gesê alle wit mense is verantwoordelik vir die sondes van hul voorvaders, die setlaars en kolonialiste, wat grond en beeste gesteel en kinders in 1976 doodgemaak het. “Julle (met verwysing na wit mense) moet skaam wees oor wat jul voorvaders gedoen het. Julle ouers het julle as wit mense met ’n slegte naam gelos. Julle moet alles teruggee wat julle van swart mense afgevat het. Julle moet betaal.”

As daar nie ’n duidelike program is om eienaarskap te herstel nie gaan almal in groot moeilikheid wees.

Hy is weer vandag oor die sing van die lied, Kill the Boer, Kill the Farmer kruisondervra waarop hy gesê het hy veroordeel niemand wat dit sing nie. Ook met verwysing na ondersteuners wat dit tydens die huidige hofsaak buite die hof gesing het. Hy het ook nie ’n probleem daarmee om dit self te sing nie, maar hy het besluit om dit nie te doen nie.

EFF-ondersteuners buite die hooggeregshof in Johannesburg.

Volgens Malema is die lied, soos ander liedere/lirieke, ’n bevrydingslied wat nie letterlik opgeneem kan word nie. Dit is oorgeneem van bevrydingsvegters wat dit voor hulle gesing het. Hy meen die lirieke is net sang en nie ’n oproep of opdrag om mense dood te maak nie.

Malema het omgekrap voorgekom toe hy oor ’n vroeëre toespraak uitgevra is waartydens hy gesê het: “Ons vra nie vir die slagting van wit mense nie, ten minste nie nou nie…”

Oor of dit dalk in die toekoms die geval kan wees, het hy gesê: “Ek kan nie die toekoms waarborg nie. Ek is nie ’n profeet nie en weet nie wat in die toekoms gaan gebeur nie.

“As dinge nie gaan verander nie, sal daar ’n revolusie wees en mense soos hy wat in stede woon gaan ook geraak word omdat hulle as ‘uitverkopers’ bestempel sal word.

“As daar nie ’n duidelike program is om eienaarskap te herstel nie gaan almal in groot moeilikheid wees.”

Op ’n vraag of die slagting van wit mense dus nie uitgesluit kan word nie, het hy gesê hy kan dit nie waarborg nie. Hy het geweier om hom daartoe te verbind dat hy nooit die woorde sal uiter nie.

Adv. Mark Oppenheimer, namens AfriForum, het Malema ook vrae oor die EFF, die party se kommunistiese beleid en steun uitgevra. Hy het hierop gesê die EFF is ’n radikale, militante party wat geweld goedkeur. “As die tyd kom en ons moet wapens opneem, sal ons nie huiwer nie. Ons voorouers het en ons sal nie gekeer word nie….”

Hy het gesê apartheid het nie met die oorgang in 1994 tot ’n einde gekom nie. Dit was ’n politieke oorgang, maar ekonomiese apartheid heers nog. “Dit is onsensitief en rassisties om te sê apartheid het in 1994 tot ’n einde gekom.”

Met verwysing na die EFF wat net 10% steun het en nie ’n kans staan om in beheer van die land te kom nie, het Malema heftig reageer en gesê: “Ek gaan president van die land word en beheer en besluite daaroor neem. Oor jou ook (met verwysing na Oppenheimer)… hoe gouer jy daarby aanpas hoe minder pyn sal daar wees…”

In kruisondervraging oor of Malema nie dink dat die sing van Kill the Boer, slagoffers van plaasmoorde traumatiseer nie, het hy gesê die getuienis van twee wit slagoffers voor die hof raak hom nie. Hy het gesê die lyding van swart mense onder verdrukkers is erger.

Verlede week het dr. Duncan Prinsloo, ’n bejaarde veearts en boer van Bronkhorstspruit, getuig hoe hy en sy vrou, Laetitia, in 2008 deur drie aanvallers in hul huis aangeval en geskiet is. Sy is dood en hy is gedeeltelik verlam gelaat.

Hy het met tye erg bewoë geraak en getuig dat hy elke keer wat hy die lied Kill the Boer, Kill the Farmer hoor, herinner word aan wat op daardie verskriklike dag gebeur het.

Soortgelyke plasings