|

Malema wéér van aanhitsing aangekla

Die sakeregtewaghond AfriSake gaan vanmiddag om 14:00 ook ’n strafregtelike klag teen Julius Malema, leier van die EFF, vir aanhitsing tot geweld by die Lyttelton Polisiestasie indien.

Dit kom nadat Malema gister op ’n nuuskonferensie in Johannesburg ondernemings in Pretoria gemaan het om eerder hul deure te sluit wanneer Pravin Gordan, minister van finansies, op 2 November in die hof verskyn.

Malema het gedreig dat ondersteuners van Gordhan die strate gaan invaar en dat besighede se veiligheid nie gewaarborg sal kan word nie.

Stefan Pieterse, woordvoerder van AfriSake, het gesê die klag moet teen Malema ingedien word omdat sakelui nie deur hom rondgeskuif kan word nie. “Ons laat die ekonomie se wiele rol en deure kan nie gesluit word wanneer Malema dreigemente maak nie.”

AfriSake het ’n beroep op ondernemings gedoen om hulself op gereedheidsgrondslag te kry om eienaars en eiendom op dié dag te beskerm. Daar word voorgestel om privaat sekuriteitsfirmas op bystand te kry.

Die jongste klag teen Malema volg op die sukses wat AfriForum vandeesweek gehad het nadat ’n dagvaarding op Malema beteken is vir aanhitsing tot geweld.

Die Valke het die dagvaarding op Malema beteken nadat die burgerregte-organisasie in Desember in 2014 ’n strafregtelike klag teen hom ingedien het. Hy het sy ondersteuners toe in Bloemfontein tydens ’n byeenkoms aangemoedig om grond landwyd te beset.

 

Soortgelyke plasings