|

MANTASHE KONDIG PERK VIR SELFOPWEKKING AAN NÁ VOLGEHOUE DRUK DEUR AFRIFORUM

Gwede Mantashe, minister van Minerale Bronne en Energie, het op 12 Augustus 2021 die regulasies aangekondig vir die nuwe 100 MW-perk vir private kragopwekking sonder ’n lisensie ná volgehoue druk deur AfriForum.

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir Gemeenskapsake by AfriForum, sê dit was die regte stap. “Hoewel dit laat is en daar geen verskoning aangebied is vir die sloerdery nie, is ons uiteraard verheug hieroor. Dit wys dat die burgerlike samelewing se druk doeltreffend is en dat die regering wel daarop reageer.

“Vanjaar was al een van die ergste jare wat beurtkrag betref en ons het nou ’n keerpunt bereik waar slegs radikale oplossings nodig is. Pres. Cyril Ramaphosa is Mantashe se hoof en hy moet die president se aankondigings pligsgetrou uitvoer.”

Volgens Brink kan en moet gemeenskappe, ondernemings en munisipaliteite die nuwe geleentheid aangryp om energie-onafhanklikheid te bewerkstellig. “Daar hang ’n permanente swaard oor die land se kop as gevolg van ’n kragvoorsiener wat net nie behoorlik op dreef kom nie. Ons beklemtoon al vir jare dat selfopwekking die enigste manier is om elektrisiteitsvoorsiening tot voordeel van die ekonomie en die land te verseker.

“AfriForum gaan hierdie nuwe geleenthede aangryp en dit in ons selfbestuurstrategie opneem. Ons moedig alle relevante rolspelers aan om dieselfde te doen. Dit is al hoe werklike energie-onafhanklikheid, vooruitgang en stabiliteit verseker kan word,” sluit Brink af.

Soortgelyke plasings