|

Nuuskommentaar: Mbalula bou steeds lugkastele terwyl alles om hom ineenstort

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het in reaksie op Fikile Mbalula, die Minister van Vervoer, se planne om die verwoeste dele van Suid-Afrika se spoorweë te herstel, verwoord wat baie Suid-Afrikaners lankal dink, naamlik dat ons nie blink nuwe spoorweë nodig het nie, maar dade wat dit tot stand bring.

Dieselfde geld vir al die ander goed wat onder Mbalula se bestuur verval het.

Die spoorlynstelsel het sedert die uitbreek van die COVID-19-pandemie kwaai onder vandale en diewe deurgeloop met infrastruktuur wat stuk-stuk beskadig of gesteel is tot op die punt waar treindienste op verskeie plekke heeltemal tot stilstand gekom het.

In Kaapstad het Mbalula tydens ’n besoek Maandag dit in die vooruitsig gestel dat die dienste tussen Kaapstad en Bellville teen Julie sal hervat. Al 21 stasies op die sentralelyn moet volgens hom opgeknap word. Dié werk moet teen die eerste kwartaal van 2023 voltooi wees. Daar is selfs onwettige grondbesetters wat in Langa op die reserwegrond neffens die spoorlyne behuising opgerig het. Kenners sê dis hoogs onwaarskynlik dat opknappingswerk volgens Mbalula se tydskedule voltooi sal word.

Fikele Mbalula het vandag Mabopane besoek.

In Mabopane, buite Pretoria, het Mbalula vandag aangekondig 23 stasies in die korridor moet opgeknap word. R1,4 miljard is hiervoor begroot waarvan R700 miljoen reeds spandeer is. Mure moet teen R50 miljoen om 31 kritieke geboue opgerig word.

Hou in gedagte dat die Passasiersspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) in ’n jaar se tyd meer as R740 miljoen se onregmatige uitgawes aangegaan het. Die Lughawemaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) en die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral), wat alles onder sy ministerie val, het onderskeidelik R282 miljoen en R175 miljoen se onregmatige uitgawes in ’n jaar aangegaan. Wat is die kanse dat Mbalula se departement, met hul patetiese bestuursrekord en dienslewering, die spoorweë, of enigiets anders, kan regruk?


Wat bestuurslisensies betref, was die agterstand in uitreiking in Augustus verlede jaar reeds meer as 1,2 miljoen.

Die lys van probleme wat in Mbalula se tyd by die Departement van Vervoer kop uitgesteek of vererger het, sluit in die Gautengse e-tol-stelsel, die Wet op die Administratiewe Beregtiging van Padverkeersoortredings (Aarto) wat ongrondwetlik verklaar is, wydverspreide korrupsie by lisensiekantore en die enorme agterstand met die hernuwing van bestuurlisensies. Die Aarto-sage strek nou reeds oor ’n dekade sonder dat padgebruikers nog enige duidelikheid hieroor gekry het. Mbalula weier om die hof se uitspraak te aanvaar en het aangedui dat hy die hofstryd verder gaan voer.

Sterftes op die land se paaie het oor die Kerstyd met 14% gestyg.


Wat bestuurslisensies betref, was die agterstand in uitreiking in Augustus verlede jaar reeds meer as 1,2 miljoen. Die enigste masjien waarmee nuwe lisensies in die land gedruk word, het opgepak en is in November vir herstelwerk na Duitsland gestuur is. Hierdie masjien druk maandeliks sowat 300 000 rybewyse.

Daarbenewens sê Mbalula ’n nuwe slimkaart rybewys sal vanjaar bekendgestel word. Hierdie plan is al in 2015 geopper, maar is opgeskort toe ’n rekenaar met sensitiewe inligting daarop gesteel is. Hierna sou dit weer verlede jaar inwerking gestel word. Mbalula sê ’n aankondiging oor ’n nuwe masjien wat lisensiekaarte moet druk, is na volgende week uitgestel.

Met só ’n baanrekord is die vraag op almal se lippe tereg: Mr. Fix, hoe gaan jy al dié goed regmaak en wanneer?

Moontlik sal Mbalula ook wil wys op sy “suksesse” toe hy nog Minister van Polisie of Minister van Sport en Rekreasie.

AfriForum het toe hy Minister van Toerisme was strafregtelike klagtes van geldwassery en korrupsie teen hom by die Brooklyn-polisiestasie ingedien. Dit het gevolg nadat Sedgars Sport, ’n sportprodukteverskaffer, na bewering in 2017 tussen R300 000 en R680 000 vir die Mbalula-gesin se reis na Dubai opgedok het. Dit was op ’n tydstip toe dié maatskappy al meer as ’n dekade sake gedoen het met die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok). Mbalula was toe nog Minister van Sport en Rekreasie.

Veiligheid in die land was ook nie onder sy leierskap as die Minister van Polisie in 2017 onder beheer nie. Sedert 1 Januarie 2017 tot Oktober 2017 is minstens 341 plaasaanvalle uitgevoer, waartydens 70 mense vermoor is.  In die lig hiervan het AfriForum toe ’n burgerlike mosie van wantroue teen hom van stapel gestuur.

Met só ’n baanrekord is die vraag op almal se lippe tereg: Mr. Fix, hoe gaan jy al dié goed regmaak en wanneer? Die publiek wag in spanning, maar het daagliks al hoe minder vertroue en verwagtinge.

Soortgelyke plasings