Mbalula Dubai-vakansie: AfriForum verwelkom openbare beskermer se bevindinge


Die burgerregte-organisasie AfriForum verwelkom die bevindinge van die openbare beskermer (OB), Busisiwe Mkhwebane, dat die voormalige minister van sport se 2016 gesinsvakansie na Dubai, betaal is deur Sedgars Sports en dat dit neerkom op botsende belange. Die OB het ook bevind dat Mbalula teenstrydig met die Grondwet opgetree het en dat hy die etiese kode vir die uitvoerende gesag oortree het.
Die saak is nou na die nasionale vervolgingsgesag (NVG) verwys om verder ondersoek in te stel oor of die geld wat gebruik is om vir Mbalula se vakansie te betaal, nie die opbrengs was van geldwassery nie.

“Ons doen ‘n beroep op die NVG om te oorweeg of hierdie optrede nie op korrupsie neerkom nie, soos gedefinieer in die onlangse uitspraak van die hoogste hof van appèl, S versus Scholtz en Ander,” sê Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid.

AfriForum het op 9 Oktober 2017 ‘n geskrewe versoek aan die OB gerig om ‘n ondersoek te loods na die beweerde betaling van ten minste R300 000 en moontlik so veel as R680 000 deur Sedgars Sports, ‘n sporttoerustingverskaffer, vir Mbalula se vakansie na Dubai.

“AfriForum sal die proses monitor en sou die NVG nie hulle werk doen nie en nie self vervolg nie, sal advokaat Gerrie Nel en ons privaatvervolgingseenheid Mbalula privaat vervolg om seker te maak dat reg en geregtigheid geskied,” sluit Taute af.

Soortgelyke plasings