|

Mbalula moet sê oor bloedige plaasmoorde

In een van die bloedigste naweke sedert die begin van die jaar, is vier mense in vyf plaasaanvalle vermoor.

Die landbou-organisasie TLU SA waarsku dat vanjaar dalk een van die ergste jare nog kan wees wat plaasaanvalle en wrede moorde betref. Sedert die begin van die jaar was daar reeds 277 aanvalle waarin 55 mense dood is. In 2016 was daar 369 aanvalle en 71 moorde.

TLU SA en die burgerregte-organisasie AfriForum het na aanleiding van die naweek se gru-aanvalle mense op plase en kleinhoewes gemaan om hul veiligheid op te skerp en altyd op hul hoede te wees vir moontlike aanvalle.

Henry Geldenhuys, voorsitter van die veiligheids­komitee van TLU SA, het gesê volgens hul statistieke was daar vandeesmaand (Augustus) al 23 aanvalle waarin ses mense dood is.

In die jongste voorvalle is Arno Niehaus (53), eienaar van die Big Creek Lodge in die Maanhaarrand-omgewing in Noordwes vermoor.

Anton Smuts (64), ’n boer van Kinross in Mpumalanga, is Saterdag vermoor nadat hy glo na van sy beeste gaan soek het. Hy is doodgeskiet en daarna is sy lyk in sy bakkie aan die brand gesteek.

In nog ’n voorval is die gesiene egpaar, Piet van Zyl en sy vrou, Tilla, vermoedelik Saterdagnag op hul plaas in die Immerpan-omgewing by Roedtan vermoor. Hul slaapkamerdeur is afgebreek waarna hulle geskiet is. Van Zyl was ’n bekende renosterboer.

James Munroe, ’n boer op die Ncaduzi-plaas in Barberton, was Sondagoggend saam met twee ander mense in die huis toe drie gewapende aanvallers deur ’n badkamervenster ingekom en hulle oorval het. Hulle is almal vasgebind. ’n Vuurwapen is op hulle gerig, maar geen skoot geskiet nie. Goedere is tydens die voorval gebuit.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê vier plaasmoorde in 48 uur eis die minister van polisie se dringende ingryping.

’n Skrywe is aan Fikile Mbalula, minister van polisie, gestuur waarin ’n dringende gesprek aangevra word om Mbalula en die polisie se ingesteldheid rondom plaasmoorde te bespreek. “Ons is bekommerd dat Mbalula hom nie op plaasmoorde toespits nie omdat dit nie sy politieke agenda steun nie.”

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het ’n beroep op die publiek gedoen om meer paraat te wees en om by gemeenskapsveiligheidsnetwerke in te skakel.

Sekuriteitsmaatskappy wys mense in landelike gebiede ook daarop dat hulle moet besef dat hulle kwesbaar en weerloos is en dat misdadigers dit uitbuit. Mense woon afgeleë en veral oor naweke is daar minder beweging wat misdadigers genoeg tyd gee om aanvalle haarfyn te beplan en uit te voer.

Plaas- en hoewe-bewoners sal meer paraat moet raak en waar moontlik hulself beter moet beveilig. Die noodsaaklikheid van goeie samewerking met die polisie, buurtwagte, privaat veiligheidsmaatskappye en gereelde patrollies kan nie genoeg beklemtoon word nie.

 

Soortgelyke plasings