|

Media kry skuld vir vertraging in Malema en Ndlozi se verhoor

 

Deur Alet Rademeyer en Jhua-Nine Wyrley-Birch

Julius Malema, omstrede leier van die EFF, en Mbuyiseni Ndlozi, woordvoerder van die EFF, se verhoor in hul aanrandingsaak het nie soos verwag vandag in die Randburgse landdroshof begin nie. Die landdros het beslis die media het nie die regte prosedures gevolg en betyds aansoek gedoen om nuusdekking aan die saak te gee nie.

Malema en Ndlozi het kort voor negeuur by die hof aangekom waar hul temperatuur nie soos ander mense s’n getoets is nie. Hulle is direk na die hof begelei, terwyl die media moes sukkel om toegang te kry.

Met sy aankoms by die hof was daar ’n groepie ondersteuners en ’n mobiele verhoog vanwaar hy hulle later toegespreek het.

In die hof het Malema uitgevaar oor die teenwoordigheid van die media en Europeërs en gesê hulle gaan hom Korana gee.

Die media moes daarna aansoeke indien oor waarom hulle die verhoor moet bywoon en nuusdekking daaraan gee.

Die staat en die verdediging het aangedui dat hulle gereed was om voort te gaan, maar dat die media die hof gyselaar gehou het.

Die staat wil nie hê dat die identiteit van die getuie bekend gemaak word nie. Malema se regspan het gesê die hofverrigtinge moet so min as moontlik steurend wees sodat getuies so gemaklik moontlik kan getuig. Daar is versoek dat daar geen bewegende of flitsende kameras moet wees nie.

Die landdros het nadat hy almal aangehoor het, gesê ’n media-sirkus sal nie geduld word nie en COVID-regulasies moet in ag geneem word. “Dit is ’n gewone aanrandingsaak waarmee gehandel moet word sonder enige bymotiewe.”

Hy het gesê elke keer wat die saak uitgestel word, lei dit tot frustrasie. “Verrigtinge moet egter in ’n ope hof plaasvind en prosedures moet gevolg word.”

Die landdros het sy misnoeë uitgespreek oor die media die hof gebombardeer het. Hy het gesê hy hoop die media slaan ag op wat vandag gebeur het. “Die reg moet gerespekteer word.”

Hoewel die media ook die reg het om te rapporteer, moet die veiligheid en regte van diegene betrokke by die verhoor ook gerespekteer word, het hy gesê.

Beperkte media, met Newzroom Afrika as ankeruitsaaier, sal die verhoor wat op 28 en 29 Oktober voortgaan, mag bywoon en uitsaai. Die verrigtinge mag nie regstreeks uitgesaai word nie en die landdros en regslui betrokke mag ook nie geïdentifiseer word nie.

’n See van rooi EFF-ondersteuners het Malema en Ndlozi ná hul verskyning in die parkeerterrein van die hof singend en dansend verwelkom. Vryheidsliedere is gesing en “Amandla, Awethu” en “AfriForum and racists must fall” is geskree.

Malema het vir die skare gesê die klag teen hom en Ndlozi is belaglik omdat polisiemans dikwels “rondgestamp” word en dat dit “deel van hul werk is”. Volgens Malema is die staat en polisie “bang vir wit mense”.

Hy het ook verwys na die geweld by die Senekal-landdroshof in die Vrystaat en gesê die EFF en sy grondmagte sal eerskomende Vrydag in Senekal wees om staatseiendom te beskerm. Volgens hom sal hulle nie daar wees om die moordenaars te beskerm nie. “Dis nie ons probleem nie. Ons beskerm nie kriminele nie.”

Die saak teen Malema en Ndlozi volg ná volgehoue druk deur AfriForum wat daartoe gelei het dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) uiteindelik besluit het om hulle te vervolg.

Malema en Ndlozi het in April 2018 na bewering by die begrafnis van Winnie Mandela ’n senior polisieman in uniform aangerand in ’n voorval wat op kringtelevisiekameras vasgevang is. Die senior polisieman het ’n klag by die SAPD aanhangig gemaak, maar dit het geen aandag geniet nie, totdat AfriForum se Privaatvervolgingseenheid in Januarie 2019 oor die ondersoek navraag gedoen het.

Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, was vandag by die hof en het gesê AfriForum wil toesien dat geregtigheid geskied. “Ons is van mening dat die saak wel vandag kon voortgaan. Deursigtigheid is egter vir ons belangrik en daarom ondersteun ons die feit dat die media vandag hier was en aansoeke gebring het om verslag oor toekomstige verrigtinge te doen. AfriForum en sy privaatvervolgingseenheid sal steeds voortgaan om die saak in belang van geregtigheid te moniteer.”

Soortgelyke plasings