Meer as 20 000 inwoners al vier dae sonder krag; AfriForum eis optrede


Die burgerregte-organisasie AfriForum het ’n dringende aksieplan van mnr. Neo Skalk, burgemeester van die Naledi Plaaslike Munisipaliteit, geëis nadat meer as 20 000 inwoners sedert Maandagoggend sonder elektrisiteit gelaat is weens wanbetaling deur dié munisipaliteit aan Eskom.
Die AfriForum-tak in Vryburg het in samewerking met verskeie DA-raadslede ’n vergadering oor dié elektrisiteitskrisis georganiseer wat gisteraand deur sowat 1 500 inwoners, asook die burgemeester en ander munisipale amptenare by die banketsaal in Vryburg bygewoon is.

“Hoewel die gemeenskapslede wat die vergadering bygewoon het slegs ’n gedeelte van die geaffekteerde inwoners verteenwoordig, was dit duidelik uit vrae, voorstelle en menings deur dié gemeenskapslede dat inwoners keelvol is vir die voortslepende kragprobleme en die wanadministrasie van die munisipaliteit,” sê Alta Pretorius-Swart, AfriForum se streekskoördineerder vir Stellaland.

Volgens Pretorius-Swart het die munisipaliteit in die afgelope ses maande geen betalings aan Eskom gemaak nie en kan hulle na bewering ook nie die minimum fooi wat Eskom verlang, bekostig nie.

“Probleme met watervoorsiening duik ook op as ’n direkte gevolg van die afsny van die kragtoevoer deur Eskom.”

Wilton Viljoen, ’n bestuurslid van die AfriForum-tak in Vryburg, het tydens die vergadering ’n voorlegging namens die burgerregtewaghond gedoen en sekere kernvrae aan die burgemeester en speaker gevra oor die huidige krisis asook ’n aksieplan vir die pad vorentoe.
Die burgemeester het onderneem om binne sewe dae skriftelike antwoorde te verskaf.

“AfriForum onderneem om volgehoue druk op die munisipaliteit toe te pas en doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te bly,” sê Viljoen.

Wys jou steun vir AfriForum: SMS “Keelvol” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings