|

Meer as 300 woon hartroerende begrafnis vir jong boer by

“Kyle se lewe was maar ’n oogwink op aarde wat té skielik verby gegaan het.”

Dit was deel van past. André Langenhoven se roerende boodskap op die begrafnis van Kyle Stols (21), ’n voorman van die plaas Hatari Game Breeders in Jagersfontein in die Vrystaat, wat verlede Sondag alleen op dié plaas in die bors en kop geskiet is.

Die NG Kerk Verkeerdevlei was vandag stampvol met meer as 300 familielede, vriende en ondersteuners teen plaasmoorde wat die merkwaardige jongman kom groet het.

“Kyle was vol planne vir die toekoms. Hy het ’n visie vir sy lewe gehad,” het Langenhoven, wat die Stols-familie ook goed ken, gesê.

Marius Eksteen, eienaar van Hatari Game Breeders, sê hy is oorval deur boodskappe van mense in Suid-Afrika én die buiteland. “Die mooiste boodskap wat ek gekry het was iemand wat gesê het dat hulle jammer is om te hoor dat die klein ‘legend’ oorlede is. Dit was die mooiste boodskap, want dit is die waarheid, hy was ons legend.”

Danie du Plessis, Kyle se swaer, het hom as ’n ysterman beskryf wat altyd die regte ding gedoen het, ongeag hoe moeilik dit was. “Waar jy nou is, is daar nie pyn of hartseer nie. Ons groet jou vir nou, maar weet ons gaan jou eendag weer sien.”

Kyle se broer, Gawie, het vroeër vandeesweek gesê sy broer mag nie net nog ’n statistiek wees nie. Hy het gesê die wêreld moet weet dat daar boere is wat vermoor word, terwyl niks eens gesteel word nie.

Hy het gesê sy ouers en 85-jarige oupa is verpletter deur Kyle se dood. “Ek weet nie hoe ons dit gaan verwerk nie. Mense moet besef dit kan enige dag met enigeen van hul geliefdes gebeur. Daarom vra ek dat ons meer vir mekaar moet omgee.”

Kyle is een van vier mense wat in minder as ’n week tydens plaasaanvalle gesterf het. Sedert die begin van die jaar was daar minstens 347 aanvalle waartydens 68 mense vermoor is. Dit is meer as verlede jaar die tyd.

In die lig hiervan het AfriForum vandeesweek ’n burgerlike mosie van wantroue teen Fikele Mbalula, minister van polisie, van stapel gestuur. ’n Beroep word op alle Suid-Afrikaners gedoen om nou op te staan en te sê genoeg is genoeg en dat dié wrede aanvalle en moorde op die land se boere nie kan voortgaan nie. Hulle kan die petisie teken by www.stopdiemoorde.co.za

Duisende Suid-Afrikaners het intussen aangedui dat hulle Maandag aan die #SwartMaandag-protes gaan deelneem uit meegevoel met soveel boere wat reeds vermoor is. Mense wat dié veldtog steun gaan swart klere dra.

Intussen word daar ook ’n reuseoptog Maandag met voertuie van Stellenbosch na Kaapstad beplan uit meegevoel met die naasbestaandes van Joubert Conradie (47) wat ook vandeesweek op sy plaas, Uitkyk, by Klapmuts in die Wes-Kaap vermoor is. Hy word môre begrawe.

Soortgelyke plasings