|

Meer as 4 000 besighede nou deel van die AfriForum Netwerk

In hierdie tyd van nood tydens die staat van inperking het al hoe meer besighede die geleentheid aangegryp om deel van die AfriForum Netwerk, ’n aanlyngids en -inisiatief van AfriVriendelik, te word.

Daar is tans sowat 4 200 ondernemings wat in Afrikaans dienste en produkte lewer op dié databasis gelys en dit word deurlopend uitgebou. Dié ondernemings strek van klein koeksisterbakkerye en organiese velsorgreekse tot gevestigde regsfirmas en selfs besighede wat noodsaaklike dienste en produkte soos handreiniger verkoop.

Tydens die eerste fase van die staat van inperking is sowat 1 200 ondernemings op die gids geregistreer.

Volgens Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriVriendelik en die AfriForum Netwerk, fokus hul daarop om nie net nóú nie, maar veral ná die tyd van inperking vir ondernemings netwerk- en bemarkingsgeleenthede te skep om hulle te help om te herstel na die krisistyd.

Sy het ook benadruk dat AfriVriendelik weer, wanneer dit toelaatbaar is, fisiese netwerkgeleenthede soos sakeontbyte, opleidingsessies, sosialemediabemarking, en entrepreneurskompetisies sal aanbied. “Ons sien gereeld hoe mense wat by ons netwerkgeleenthede was mekaar se dienste gebruik of hulle weer verwys na iemand wat hulle deur die netwerk ontmoet het. Dít is wat ons by ons lede wil aanmoedig – om die netwerk te ondersteun. Dit is julle wat ons sterk maak.”

Sy sê voorts dat dit ook ’n realiteit is dat nie alle ondernemings suksesvol aansoek sal kan doen vir die staat se besigheidsverligting nie. “Daarom is dit nou meer as ooit die regte tyd en die regte ding om jou gemeenskap se mense en hul ondernemings te ondersteun.”

Lené Heck, eienaar van die leefstyl- en grimeerateljee, Opgedollie, wat vanjaar die Tinteltong Toekenning vir die mooiste Afrikaanse handelsmerk gewen het, sê dat die AfriForum Netwerk ’n baie goeie inisiatief is omdat dit soos ’n gemeenskap funksioneer. “Dit kan met tye eensaam wees om veral ’n kleinsakeonderneming te bestuur en waar ons almal op ons eie eiland sou funksioneer word daar nou ’n platform en geleentheid geskep vir Afrikaanse entrepreneurs om nie net te netwerk nie, maar ook erkenning te kry.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, moedig entrepreneurs en verbruikers aan om die AfriForum Netwerk te ondersteun. “Die COVID-19-krisis vereis dat ons mekaar meer as ooit tevore moet ondersteun om sodoende besighede in ons gemeenskappe so gou moontlik na die inperkingstyd weer op die been te kry.”

Alle besigheidseienaars, entrepreneurs, kleinsakeondernemings, winkelbestuurders en selfs verbruikers kan ’n e-pos na afrivriendelik@afriforum.co.za stuur om ’n besigheid GRATIS op hierdie gids te laat lys.

Die AfriForum Netwerk is aanlyn vir enige diensverskaffer of verbruiker beskikbaar. Besoek dit by www.afriforumnetwerk.co.za

Soortgelyke plasings