|

MEER AS 5 000 BESOEK AFRIFORUM TEATER IN EERSTE 100 DAE

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Die AfriForum Teater in Pretoria is vandag (Donderdag 10 Junie) presies honderd dae oop en byna 5 500 teatergangers én talle bekende gesigte is reeds deur sy deure.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die teater onder meer gestig om te verseker dat daar, te midde van die ernstige impak wat die COVID-19-pandemie op die teaterbedryf het, steeds ’n volhoubare tuiste gebied kan word waar die Afrikaanse kunste kan voorbestaan en floreer. “Ons weet die kunste het weens COVID nes ’n bokser ’n harde hou téén die planke gekry. Maar ons kon danksy ons lede Afrikaanse kunste egter weer óp die planke sit.”

Volgens Kriel is die hoeveelheid mense wat reeds die teater besoek het ’n aanduiding daarvan dat die organisasie absoluut die regte ding gedoen het. “Die Teater is eintlik ’n monument van die bouwerk wat ons doen om vir ons taal en kultuur ’n toekoms te skep. Dis ’n teater vanuit die gemeenskap, vir die gemeenskap.”

Die AfriForum Teater bied werklik vermaak vir elke smaak en ’n groot verskeidenheid Afrikaanse kunstenaars, produksies én gemeenskap- en skoolkultuurgeleenthede was reeds die afgelope paar maande op die verhoog te sien.

Verhoogproduksies sluit die skrywer en dramaturg Dana Snyman se gewilde produksie Donkie, waarin Frank Opperman die rol van ’n uitgebrande skoolhoof speel, die Binnelanders-akteurs Germandt Geldenhuys en Je-ani Swiegelaar se bittersoet komedie, Keelvol, asook Marita van der Vyver se Dinge van ’n kind met Die Byl se Cintaine Schutte in die hoofrol, in. Rikus de Beer, oftewel Jonathan van Radio Raps, het nege vertonings gehad wat elke keer uitverkoop was.

Schutte vertel dat dit vir haar spesiaal is dat dié produksie in Pretoria, waar sy grootgeword het, te sien was. Volgens haar sal teater ook nooit uitsterf nie. “Ons as kunstenaars sal aanhou beweeg en geraas maak. Ons het gebloei in hierdie tydperk en dit was werklik moeilik. Ek is net dankbaar dat ek weer op die verhoog kan wees en dat AfriForum vir kunstenaars die geleentheid gee om hul werk te kan ten toon stel. ’n Mens kan voel hier is ’n tipe kreatiewe energie en rou emosie. Mag die teater werklik net hoër en hoër vlieg.”

Gewilde Afrikaanse sangers en groepe soos Klopjag, Janie Bay, Jo Black, Kevin Leo, Adam Tas, Roan Ash, Dewald Wasserfall, Bouwer Bosch, Amanda Strydom, Joshua na die Reën en Bernice West, om net ’n paar te noem, het teatergangers vanjaar al aan die dans en handeklap gehad.

“Dit was ongelooflik lekker om weer op die verhoog te wees, veral in so ongelooflike teater met sulke goeie klank en beligting. Dit was moeilik om vir lank nie optredes te kon hou nie so ek is uiters dankbaar vir elke persoon wat ons kom ondersteun het,” sê Bay oor haar eerste optrede by die teater.

Liefhebbers van klassieke musiek word ook nie uitgelaat nie. Die klassiekemusiek-ensemble, Con Grazia, en die bekroonde pianis, Ben Schoeman, het al prag-optredes by die teater gehad. Verder verskaf kinderproduksies soos Liewe Heksie en Sorina Erasmus, oftewel die Flooze, se Tjominis Saterdae-oggende hope pret vir die kleingoed en ’n uur of twee se saligheid vir die mammas.

Die idee vir Tjominis (mini-‘Tjommies’) het ses jaar terug ontstaan toe Erasmus vir haar oudste, Braam (7), wat destyds ’n besige peuter was, dikwels opvoedkundige video’s vir kinders op die internet gespeel het om hom rustig te maak. “Soortgelyke Afrikaanse inhoud was baie skaars en ek het tóé al begin idees konseptualiseer en liedjies skryf.”

Die geboorte van haar dogtertjie het egter die Tjominis bietjie op ys geplaas, maar as gevolg van die inperkingsmaatreëls en kansellering van optredes kon Erasmus in 2020 opnuut weer haar Tjominis-droom vlerke gegee. Haar eie kleingoed was ook baie betrokke by die proses en het al die liedjies en stories vir die CD’s en DVD’s egter eers “goedgekeur”.

“Hoewel dit vir kinders lekker is om die Tjominis-CD’s te luister of video’s te kyk, is die kinderteateroptredes daarvan egter net ’n totale ander ervaring. Dit is vir hulle iets besonders om hierdie karakters lewensgroot voor hulle te sien.”

Sy het ook haar dank aan die AfriForum Teater betuig. “Dis ’n voorreg en ’n fees om by die AfriForum Teater op te tree, veral met ’n produksie soos Tjominis. Hulle bou vir én saam met ons as kunstenaars aan die kunste.”

Om kaartjies te bespreek of meer inligting oor opkomende produksies te bekom, besoek www.afriforumteater.co.za.

Soortgelyke plasings