|

Meer druk op Ramaphosa en ANC-regering nodig teen plaasmoorde

 

Dit lyk asof pres. Cyril Ramaphosa en sy regerende party nie geneë is om die krisis rondom plaasmoorde en –aanvalle te erken of iets daaromtrent te doen nie.

Totdat dít gebeur, is boere en landelike gemeenskappe op hulself aangewese om te voorkom dat hulle brutaal aangeval en vermoor word. “Dit is nou ’n kwessie van lewe en dood en boere moet hulself bewapen om hulself en hul gesinne te beskerm.”

Só het dr. Theo de Jager, voorsitter van Saai, tydens ’n nuuskonferensie gesê waar AfriForum vandag ’n verskerpte veldtog teen plaasmoorde aangekondig en.

Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, het in ’n sterk bewoorde ope brief aan Ramaphosa tien praktiese stappe uiteengesit wat die regering behoort te doen om plaasmoorde doeltreffend te bekamp.

Hy het verwys na Ramaphosa sy stilswye en vroeëre ontkenning oor die werklikheid van plaasmoorde in die land en gesê terwyl Ramaphosa onlangs tereg homself uitgespreek het oor die geweld teenoor vroue en kinders, behoort hy dringend die pandemie van plaasmoorde ook te erken en te veroordeel.

Roets het uitgewys dat daar in Junie vanjaar ten minste 40 plaasaanvalle was, terwyl minstens vier mense in die eerste week van Julie op plase vermoor is.

Hy het die name van slagoffers gelys asook die brutale en wreedaardige wyse waarop hulle vermoor is. “Ons hoop dat hierdie voorbeelde vir die president genoeg rede sal gee om die krisis te erken. Ons vra nie vir spesiale behandeling nie, maar vir gelyke behandeling. Ons weet nie waarom die regering die krisis aktief onderspeel nie en daarom doen AfriForum alles in sy vermoë om plaaslike en internasionaal druk op die regerende party te plaas.”

In dié verband het AfriForum ook ’n kort dokumentêre film vrygestel oor die wrede moord in Desember 2010 op die Potgieter-gesin van Lindley in die Vrystaat. Die organisasie wil hiermee groter bewustheid vir plaasmoorde skep.

Ian Cameron, hoof van Gemeenskapsveiligheid by AfriForum, meen die aanvalle gaan waarskynlik nie afneem nie, hoewel daar tydens die staat van inperking wel minder voorvalle was. “Die regering het ons landelike gemeenskappe tot nou toe bloot in die steek gelaat. Ons moet onsself organiseer en proaktief optree om aanvalle af weer.”

Cameron het uitgewys dat AfriForum se navorsing en inligting duidelik uitwys dat plaasmoorde uniek en nie maar net nog ’n misdaad is nie. “In talle van die aaklige aanvalle word niks of selfs net ’n selfoon gesteel.”

Volgens hom hou die regering se verduideliking dat die moorde en misdade om ekonomiese redes gepleeg word nie water nie. “Hoe help die moord op ’n swanger vrou wie se keel deur haar aanvallers afgesny word om kos op hulle tafel te sit? Die probleem waarmee ons te kampe het hou verband met die moraal van mense en die regering.”

Cameron het beklemtoon hoe belangrik dit is dat boere moet terugveg en hulself bewapen en ook gereeld hul eie en hul gesinne se roetine moet aanpas. “Die aanvallers is lafaards wat ouer mense teiken, maar ons sien al hoe meer slagoffers wat terug baklei en hulle is eintlik die werklike helde.”

De Jager het gesê Saai steun AfriForum se verskerpte veldtog. “Daar is nêrens in die wêreld iemand wat soveel aandag en hulpbronne beskikbaar stel om die probleem van plaasmoorde op te los nie.”

Volgens De Jager is daar ’n positiewe ontwikkeling in die sin dat al hoe meer internasionale media oor plaasmoorde berig en dat daar al hoe meer navrae aan ambassades is om uit te vind wat die regering aan die probleem doen. “Ek is opgewonde oor die debatte en die druk van opposisiepartye op die regering. Ons kan egter niks van die regering verwag totdat hulle erken dat dit nie net ’n uitdaging nie, maar ’n krisis is.”

De Jager meen ’n multi-dissiplinêre benadering en onafhanklike kommissie van ondersoek is nodig na die voorkoms van plaasmoorde en –aanvalle. “Totdat ons nie behoorlike navorsing en data en optrede van die regering het nie, moet ons besef is ons op ons eie en moet elke boer en sy gesin weet hoe om terug te veg.”

De Jager het voorts gesê dit is baie duidelik dat plaaswagte en patrollies baie meer aandag moet kry. “Boere moet betrokke raak by die inisiatiewe.”

Met verwysing na die uniekheid van plaasmoorde, meen De Jager dit kan nie met ander misdade en moorde vergelyk word nie. “Daar is nêrens op sosiale media ’n oproep dat bendelede vermoor moet word wat moord pleeg nie. Wanneer daar egter ’n plaasmoord is, is daar ‘applous’ daaroor op sosiale media en word selfs vir meer gevra. Dit lyk of dié moorde goedgekeur word en daar geen optrede of gevolge is vir diegene wat sulke uitsprake maak nie. Die regering het ’n plig om hierna te kyk.”

Lees hier die volledige ope brief aan Ramaphosa.

 

Soortgelyke plasings