|

MEER WAPENS, MINDER GEWELD

Deur Jacques Broodryk

Die Suid-Afrikaanse regering het onlangs sy planne bekendgemaak om ingrypende veranderinge aan die wapenwetgewing aan te bring.

Die voorgestelde wysigings is absurd in baie aspekte, maar die mees verregaande is sekerlik die voorstel dat selfverdediging nie meer ’n aanvaarbare rede sal wees om ’n wapen te besit nie.

Bheki Cele, minister van polisie, voer aan dat om wettige wapeneienaars te ontneem van hul reg om ’n wapen te besit, sal lei tot ’n afname in vuurwapengeweld. Cele kyk baie gerieflik die feit mis dat sy eie departement die afgelope paar jaar sowat 5 000 dienswapens verloor het. In antwoord op ’n vraag deur die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, het Cele ook erken dat die polisie sowat 10 miljoen patrone verloor het.

Boonop is die wapens wat die meeste in kontant- en transitorooftogte gebruik word, R4- en R5-aanvalsgewere wat deur die polisie en die weermag uitgereik word. Kenners is ook bekommerd oor ’n toename in die gebruik van AK-47-aanvalsgewere in rooftogte – beslis nie wapens wat by wettige wapeneienaars gebuit is nie maar eerder wapens wat vermoedelik oor Suid-Afrika se swak bewaakte grense gesmokkel word.

Dan praat ons nie eers van die gevalle waar wapens wat tydelik deur die polisie in veilige bewaring geplaas is, deur polisielede aan misdadigers uitverhuur is om misdade te pleeg nie.

En daar is natuurlik die geval van Chris Prinsloo, ’n oudpolisielid wat meer as 2 000 wapens uit polisiestore gesteel en aan bendes in die Wes-Kaap verkoop het. Dit is maar net een van die min gevalle waarvan ons weet. Tog bly Cele daarop hamer dat wettige wapeneienaars die probleem is.

Die polisie se eie statistieke toon dat die meeste geweldsmisdade met skerp voorwerpe gepleeg word en nie vuurwapens nie. Waarom wil Cele dan nie eerder messe verbied nie?

’n Studie in 2007 deur die Harvard-universiteit, wat verskeie lande ingesluit het, het bevind dat daar ’n direkte verband is tussen ’n gewapende burgery en ’n afname in geweldsmisdade – dus maak die minister se argument glad nie sin nie.

Die vraag moet natuurlik ook gevra word, is – as Cele nie wil hê burgers moet hulself met vuurwapens kan verdedig nie – of hy dan bereid is om sy eie lyfwagte ook te laat ontwapen?

As mens in ag neem dat genl. Khehla Sitole, die polisiekommissaris, in 2018 in die parlement erken het dat die polisie nie in staat is om sy mandaat te vervul nie, is die voorgestelde wetgewing so onlogies dat die regering se besluit om dit voor te lê, my net na een afleiding kan neem: die owerhede wil jou ontwapen want hulle is van plan om iets te doen waarteen jy met geweld sal terugbaklei, sou jy in staat wees om dit te doen.

Soortgelyke plasings