|

MEERDERHEID GESONDHEIDSWERKERS HET GEEN VERTROUE IN REGERING EN NGV

Deur Alet Rademeyer

In ’n verslag wat die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) vandag in Pretoria vrygestel het, ondersteun bykans geen gesondheidsorgwerker die regering se plan om nasionale gesondheidsversekering (NGV) te implementeer nie.

Meer as 85% van respondente wat aan die studie deelgeneem het, meen die inwerkingstelling van NGV sal daartoe lei dat gesondheidsorgwerkers eerder emigreer.

Benewens algemene praktisyns en spesialiste is gesondheidsorgwerkers uit meer as 40 ander mediese beroepe soos dieetkundiges, sielkundiges, aptekers, oudioloë, oogkundiges, terapeute, tandartse en verpleegpersoneel by die studie betrek.

Die studie is die afgelope drie jaar herhaal en die vlak van negatiwiteit van respondente het nie oor die tyd wesenlik verander nie.

Wat respondente se ingeligtheid oor NGV betref, het 48,1% aangedui dat hulle genoegsame kennis daaroor het.

Die meerderheid gesondheidsorgwerkers (93,4%) is diep bekommerd oor die staat se vermoë om NGV te bestuur en te administreer. Sowat 87% is veral daaroor bekommerd oor of die staat betalings aan gesondheidpraktisyns betyds en doeltreffend sal kan doen.

Die regering se planne rondom ’n sertifikaat van behoefte, wat onder meer kan bepaal waar ’n gesondheidsorgwerker mag werk of ’n praktyk mag hê, het meer as 86% van respondente ook diep beswaard. “Dit is eenvoudig verregaande dat dit aan die staat oorgelaat word om tariewe, plek van werk, die aard van diagnostiese toetse wat gesondheidsorgwerkers mag doen en die tipe medikasie en behandeling wat pasiënte nodig het, te bepaal,” sê Nicolien Welthagen, senior navorsingsielkundige by die SNI.

Nicolien Welthagen, senior navorsingsielkundige by die SNI.

Henro Kruger, hoof van professionele gildes by Solidariteit, meen Suid-Afrika se gesondheidsorgsektor is reeds in groot moeilikheid en onder enorme druk gegewe die groot tekort wat daar aan dokters en ander gesondheidwerkers in die land is.

“Die staat het die beheer oor die opleiding van gesondheidsorgwerkers, maar hulle slaag nie daarin om die behoeftes en tekorte aan te spreek nie. Gesondheidsorgwerkers het nie vertroue in die regering nie en hul gevoel is dat hulle gevoelloos, onbillik en skandelik behandel word. Ook wat die voorgestelde NGV betref, aangesien hulle nie behoorlik gekonsulteer is of hul behoeftes in ag geneem is nie.”

Volgens Kruger is dit ondenkbaar om te dink dat die regering en onbevoegde mense wat vir hulle werk aan dokters en spesialiste, wat baie jare lank studeer, wil voorskryf hoe en waar hulle mag praktiseer.

Henro Kruger, hoof van professionele gildes by Solidariteit.

Die SNI-studie het bevind 78,9% van gesondheidsorgwerkers meen NGV het die potensiaal om die gesondheidsorgstelsel in die land te destabiliseer. 74,3% van respondente meen alle Suid-Afrikaners sal nie onder NGV toegang tot bekostigbare en gehaltegesondheidsorg kry nie.

Die wantroue in die regering en hul onvermoë om gesondheidsorg en NGV te bestuur, het tot gevolg dat tot 13,7% van respondente aangedui het dat hulle reeds besig is met stappe om die land te verlaat. 35,9% het aangedui hul sal stappe doen om te emigreer indien NGV ingestel word.

In die 2021-studie is respondente ook uitgevra oor hul belewenis van die staat se hantering van die COVID-19-pandemie en die hantering van die entstofprogram. Altesame 38,1% meen die pandemie word baie swak hanteer en 41% voel dieselfde oor die entstofprogram.

Connie Mulder, hoof van die SNI, het daarop gewys dat die regering onbevoeg is en dat NGV net ’n verdere geleentheid vir korrupsie deur die regering sal skep. “In ander navorsing wat die SNI gedoen het, het ons bevind dat tot R112 miljard vir NGV nodig sal wees. Dit is die hele begroting van die SAPD. Dit is eenvoudig onbekostigbaar en daar is geen manier hoe nog meer belastinggeld van belastingbetalers verhaal kan word wat reeds onder baie groot druk is nie.”

Connie Mulder, hoof van die SNI.

Solidariteit beplan massa-litigasie om NGV te beveg en te voorkom dat die land se gesondheidstelsel nog verder in duie stort.

Soortgelyke plasings