|

Menseregtekommissie as waghond kom al hoe meer rassisties voor

 

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) en die SAPD het ’n grondwetlike plig om alle vorme van rassisme uit te roei. Gebrekkige optrede deur dié instellings skep die indruk dat hulle hulself aan rassisme skuldig maak. “Dit wil al hoe meer voorkom asof die waghond homself aan rassisme skuldig maak.”

Só het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, vandag tydens die bekendmaking van ’n verslag oor rassisme in die SAPD gesê.

Solidariteit eis dat die MRK en die SAPD ondersoek instel na vals klagtes van rassisme en ander vorme van rassisme in die SAPD.

Volgens Hermann is daar ook ’n ernstige probleem in die openbare diskoers oor die nuwe vorme van rassisme in die polisie. “Was dit enigsins so dat valse beskuldigings nie teen minderheidgroepe gemaak is nie, sou daar ’n openbare uitroep gewees het. Wit polisielede se lewens word vernietig. Verdere studie is nodig oor die optrede teen minderheidsgroepe in die polisie.”

Hermann meen die nuwe vorme van rassisme in die SAPD het sistemies geword. “Die MRK en SAPD is oorverdowend stil hieroor of ignoreer dit.”

Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het ’n omvattende studie oor die tendens gedoen en 56 respondente het aan die opname deelgeneem.

Volgens Annelise de Vries, navorser by SNI, is dit duidelik dat veral minderheidsgroepe in die SAPD in ondraaglike omstandighede werk, geviktimiseer en geteiken word. “Die bevindinge dui op ’n patroon in die wyse waarop wit SAPD-lede hanteer word. Eerstens word daar griewe en valse beskuldigings van rassisme teen wit lede ingedien nadat hulle ondergeskiktes gedissiplineer het of bloot oor die feit dat hulle wit is. In die meeste gevalle word die beskuldigdes onskuldig bevind, terwyl diegene wat die onwaarhede versprei het nooit aan die pen ry nie. Die valse beskuldigings het ernstige emosionele en finansiële gevolge vir diegene wat onskuldig bevind word,” sê De Vries.

Renate Barnard, sektorkoördineerder by Solidariteit, wys daarop dat onskuldige SAPD-lede met jare se ervaring uitgewerk word en dat hul lewens en loopbane in die proses vernietig word. “Dit hou ’n ernstige bedreiging vir die land en die mense in as ons in ag neem hoe misdaad ook drasties toeneem. Die enigste hoop en oplossing vir die toekoms is dat daar hard teen diegene opgetree word wat valse beskuldigings maak.”

Uit die verslag blyk dit dat SAPD-lede geen vertroue in die stelsel het nie. Net 69,9% het valse beskuldigings en intimidasie aangemeld, terwyl 97,9% nie tevrede was met hoe hul sake hanteer is nie. In die meeste gevalle word die sake nie behoorlik ondersoek nie, terwyl daar ook gevalle is waar die vakbond Popcru duidelik ingemeng het.

Die respondente het aangedui dat hulle onder baie moeilike omstandighede moet werk. Baie kry geen bevorderingsgeleenthede op grond van hul ras nie en talle is slagoffers van valse beskuldigings net omdat hulle wit is. Van die slagoffers ly aan depressie, angs, uitbranding en post traumatiese stressindroom. In van die gevalle het onskuldige polisielede hul werk verloor, party is na ander stasies verplaas en in enkele gevalle het van die deelnemers aangedui dat hulle selfmoord as enigste uitweg oorweeg het. “Ek kan nie meer uit die bed opstaan nie. My lewe het na 30 jaar betekenisloos geword,” het een van die respondente gesê.

Soortgelyke plasings