|

Meyer is g’n skaam Afrikaner

Die atmosfeer by Buffelsfontein Beesboerdery in die ooste van Pretoria is warm, gemoedelik én Afrikaans.

’n Mens voel sommer onmiddellik tuis wanneer Meyer le Roux, een van die baasbreine agter die Buffelsfontein Baard-olie-handelsmerk, jou by die restaurant inwag, stip in die oë kyk en ’n stewige handdruk soos ’n generaal van ouds gee.

Ons val sommer met die deur in die huis. Hoe het die oornagroem gebeur?

Meyer vertel sowel hy as sy vennoot, Mark Eybers, het twee jaar gelede baarde en “gewone” werke gehad. Hy was by die polisie se weduwee-en-wesefonds werksaam, terwyl Mark ’n kroeg in Hatfield bestuur het. Soos dit maar met baardgroei gaan, het die gejeuk daartoe gelei dat hulle ’n olie moes gebruik. Mark was nie beïndruk met die olie wat op die mark beskikbaar was nie en het gesê dat hy sy eie gaan vervaardig.

“Ons maak toe ’n paar botteltjies waarvan ons hou en begin ’n webtuiste om te kyk of ons nie ’n geldjie kan maak nie. Ons het niks verkoop nie. Toe sit ons een aand by die sanger Adam Tas. Hulle het net met Loopgraafproduksies begin en hy stel toe voor dat ons ’n video sommer daar in sy sitkamer maak. Ons het dit die volgende dag op YouTube gelaai, daar was so 30 000 kyke en toe net algehele chaos…”

Meyer glo die sneeubalsukses kan toegeskryf word aan die mooi Afrikaans wat hulle gebruik. “Mense soek dit. Hulle wil terug na hul taal. Hulle wil praat van ’n beeshaas sonder om skeef aangekyk te word. Kruisskryf is tog net soveel mooier as rump.” Daarom is die spyskaarte by die restaurant in Menlopark slegs in keurige Afrikaans en braille beskikbaar.

Meyer is ’n trotse lid van sowel AfriForum as Solidariteit Helpende Hand en ondersteun talle van die burgerregte- en diensorganisasie se projekte. Hy is byvoorbeeld by Helpende Hand se skooltassieprojek betrokke en skenk ’n gedeelte van die restaurant se wins hiervoor. “Dis vir my belangrik om te weet waarheen my geld gaan,” sê hy.

“Ek hou ook baie van wat AfriForum doen. Hierdie mense wat so oor AfriForum te kere gaan, besef nie dat hulle nie in die posisie sou gewees het om nog te gaan uiteet en in ’n mooi huis te bly nie, en dat hulle vullis nie verwyder sou word as dit nie vir organisasies soos dié was nie. Sonder instansies soos dié was die land, wat Afrikaanse mense betref, lankal in chaos.”

Hy wil nie ’n enkele veldtog of projek uitsonder nie, maar sê hy voel baie sterk oor plaasmoorde. Sy familie woon in Pretoria, maar boer ook met sitrus op die familieplaas Buffelsfontein, geleë tussen Brits en Rustenburg. “Wat in hierdie land gebeur, is belaglik. Daar moet elke dag vir die boere dankie gesê word vir wat hulle doen. Daar behoort eintlik ’n monument vir die onbekende boer opgerig te word soos die een vir die onbekende soldaat. Maar in stede daarvan vertrap die regering hulle, wil hulle hul grond afneem.”

As oudleerling van die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria, lê sy taal hom ook na aan die hart. “Ons moet vir ons taal baklei. Ek is nie slim genoeg nie en verwelkom dit as organisasies soos AfriForum dit doen.”

Hy praat ook met groot lof van mense soos dr. Pierre Edwards, sy oudhoof by Affies. “Ek het groot bewondering vir wat hy alles vir Afrikaans en geskiedenis doen. En die manier hoe hy die skool gelei en bestuur het.”

Meyer is ook uitgesproke oor die toekoms van jong Afrikaner-entrepreneurs in die land. “Ons moet bymekaar staan en mekaar ondersteun. Ek het al ’n paar lesse geleer. Jy moet jou ego in jou sak steek as jy begin en besef daar is altyd iemand wat meer as jy weet. Mark weet byvoorbeeld baie van finansies af en ek niks. Maar ek weet weer bietjie meer van bemarking. ’n Goeie begin is om jou te omring met mense wat slimmer as jy is en dit tot jou voordeel te gebruik.”

Meyer is passievol oor sy land en sy mense, hoewel hy ook heeltemal verstaan indien mense emigreer. “Daar is verskriklike dinge wat gebeur wat nooit eers die media haal nie. ’n Mens kan bylaes vol maak oor plaasmoorde en die verskriklike dinge soos verkragting en aanranding wat ook in die stad gebeur.

“Ek verstaan hoekom mense landuit wil gaan, maar ek sal nie kan nie. Ek voel ek is so half geroep om mense te help wat nie kan emigreer nie. As ons dan nou in die loopgraaf moet lê, is ek bereid om dit te doen om die mense te help wat agterbly.

“Ek raak meer positief oor die land, veral as ek kyk na veldtogte soos AfriVriendelik. Ek is verskriklik opgewonde oor hul Afrikaanse toep wat jy op jou selfoon kan gebruik. Ek is ook baie bevoorreg om deel van dié inisiatief se entrepreneurskompetisie te wees. Ek dink dit is ’n reusehulp vir Afrikaanse mense en ondernemings. Ons moet onsself en ons eie mense ondersteun en ’n laer om mekaar trek.”

Volgens Meyer is hy glad nie skaam om te sê dat hy ’n Afrikaner is nie. Dit is dan ook waarom iemand soos genl. Christiaan de Wet vir hom ’n inspirasie is. “Nie oor sy baard nie, maar oor hoe hy Kitchener op sy neus laat kyk het.

“Oor Afrikaners wat skaam is om hul Afrikanerskap te erken, wil ek eintlik net sê: Ek is nie kwaad vir hulle nie, maar net vreeslik teleurgesteld. Ek verstaan nie die mentaliteit nie. Dit maak eenvoudig nie vir my sin nie. Ek ignoreer maar sulke mense en doen dinge soos ek goed dink. Ek dink jy moet weet wie jy is. Jy moet sorg dat jy strukture in plek het en deel van jou gemeenskap is.”

 

Meyer het groot drome vir die toekoms. Hy wil sy onderneming uitbrei. “Op die oomblik kan jy jou lewerolie by die restaurant drink en daarna jou baardolie by ’n winkel reg langs die restaurant gaan koop.”

Die baardolie is ook in 66 ander winkels landwyd beskikbaar. En indien jy in Australië of Namibië woon, kan jy dit aanlyn bestel. Daar word ook oorweeg om na Dubai uit te brei, aangesien baie Suid-Afrikaanse mans met baarde daar werk. “Ons is baie opgewonde. As ons dit regkry om ons groot lenings af te betaal, wil ons uiteindelik ook na ander dorpe uitbrei. Ons het gesien mense waardeer hierdie Afrikaansgeit van ons en partykeer kom sê mense sommer net dankie dat hulle in Afrikaans bedien word.”

Intussen het Meyer-hulle ook begin om jagtoebehore soos ’n geweergordel en -sak te bemark. Maar die groot ding wat beplan word, is Buffelsfontein-toere. Dan is daar ook biere en ’n klerereeks….

Maar alles is darem nie net werk en planne beraam nie.

Meyer gee toe dat dit sy heel grootste swakheid is om nee te sê vir ’n kuier. “Dis vir my amper onmoontlik. Ek lê snags wakker as ek ’n kuier gemis het. Ek het ook ’n ander swakheid. As ek in die oggend opstaan, is my eerste gedagte dat ek maer wil word. Maar voor ek my weer kan kry, lê ek op die bank en suig aan ’n blik kondensmelk. Ek wil hierdie gewoonte bitter graag verander en weet ek moet harder hieraan werk en begin oefen.”

 

 

Soortgelyke plasings