|

Minister en LUR’e moet verseker openbare deelname vind elektronies plaas

Die burgerregteorganisasie AfriForum het ’n dringende skrywe aan dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, en die LUR’e gerig om te verseker dat enige dokumentasie wat munisipaliteite publiseer ingevolge artikel 75 van die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA) op die betrokke munisipaliteit se webtuiste beskikbaar gemaak moet word.

“AfriForum se 141 takstrukture neem aktief aan die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP)-prosesse van munisipaliteite deel. Weens die staat van inperking moet munisipaliteite ’n verskerpte fokus op elektroniese kommunikasie plaas sodat gemeenskappe steeds doeltreffend aan openbaredeelnameprosesse soos munisipale begrotings en die GOP kan deelneem. Die meerderheid munisipaliteite voldoen nie aan hierdie wetgewing nie en daarom is dit belangrik dat die minister en LUR’e toetree,” sê Morné Mostert, bestuurder van plaaslikeregeringsake by AfriForum.

Die finale rondte van munisipaliteite se openbaredeelnameproses rakende die GOP en begroting vind gewoonlik in Maart en April plaas. Hierdie twee dokumente bepaal die befondsing van ’n munisipaliteit se volgende finansiële jaar en kan ’n wesenlike impak op die munisipaliteit se finansies hê.

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum, sê die provinsiale departement kan en moet hul oorsigfunksie uitoefen om te verseker dat munisipaliteite aan wetgewing voldoen. “Provinsiale departemente kan nie net terugsit en kyk hoe munisipaliteite verder agteruitgaan nie. Hulle moet inspring en munisipaliteite wat gebrekkig is, aanmaan. As die munisipaliteite nie gehoor gee nie, moet daar van artikel 139-ingrypings gebruik gemaak word.”

Soortgelyke plasings