| |

Minister moet irrasionele risikovlak-3-regulasies herroep

AfriForum doen ’n beroep op dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, om die irrasionele regulasies te herroep wat vir risikovlak-3 bekend gemaak is. Die Tshwane Metro en Ekurhuleni Metro is byvoorbeeld as sogenaamde brandpunte verklaar terwyl Tshwane tans 3,7 en Ekurhuleni 4,5 aktiewe COVID-19-gevalle per 100 000 mense het. Dít terwyl dr. Zweli Mkhize, Minister van Gesondheid, aangedui het dat daar vyf aktiewe COVID-19-gevalle per 100 000 mense moet wees om ’n metro of distrik as brandpunt te klassifiseer.

“Mense is moeg daarvoor om soos onderdane behandel te word. Ons is nie kinders nie; ons het die vermoë om self berekeninge te doen. Dit is onaanvaarbaar dat die een minister ’n riglyn aankondig en die volgende dag word daardie riglyn deur ’n ander minister weerspreek,” sê Barend Uys, hoof van Navorsing en Ontwikkeling by AfriForum. Waarom daar op vyf gevalle per 100 000 besluit is, word ook nie aan mense verduidelik nie.

Die minister moet ook die regulasies herroep waarvolgens wildreservate, opelugmuseums, strande en parke gesluit bly. Dit is irrasioneel omdat dit maklik is om sosiale distansiëring by sulke plekke te handhaaf en goeie lugsirkulasie ’n gegewe is. Daar is verder geen rasionele rede waarom museums steeds gesluit bly nie – sosiale distansiëring en ander maatreëls kan gevolg word, soos by ander persele die geval is.

Ten spyte daarvan dat president Cyril Ramaphosa gesê het ’n mens sal ter enige tyd kan oefen solank riglyne gevolg word, word oefen slegs toegelaat tussen 06:00 en 18:00, wat weer eens ’n onnodige aantasting van mense se vryheid is.

“Dit is onrusbarend dat kerke uitgesonder word. Die getal mense wat ’n hele dag lank binne ’n werksomgewing kan wees, word bepaal deur die vloeroppervlakte van die gebou, terwyl kerkbyeenkomste, ongeag die grootte van die gebou, tot slegs 50 lidmate beperk word,” sluit Uys af.

Soortgelyke plasings