|

Ministers kan nie langer niks aan plaasmoorde doen – AfriForum

Windpomp12Upload

Die soveelste gewelddadige plaasaanval waarin Petro Res (60) van Thabazimbi Vrydagaand dood is, bevestig opnuut dat plaasmoorde ’n nasionale krisis is en tot prioriteitsmisdaad verklaar moet word.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van die burgerregte-organisasie, AfriForum, het opnuut ‘n beroep op die minister van polisie, Nkosinathi Nhleko gedoen om plaasmoorde te prioritiseer.

Dit kom nadat ’n bejaarde egpaar en hul vriendin Vrydagaand op hul wildsplaas naby Thabazimbi aangeval is. Bruno Res (73) is in die arm geskiet en sy vrou Petro (60) in die kop. Die egpaar is deur vyf mans oorval toe Petro en ’n vriendin Vrydagaand by die plaas aangekom het. Al drie die slagoffers is na die aanval in ’n instapkluis toegesluit. Petro is in haar vriendin se arms dood.

Sedert die begin van die jaar was daar meer as 160 plaasaanvalle, waartydens meer as 40 mense vermoor is.

Roets meen plaasmoorde is ‘n nasionale krisis en die polisie se versuim om hierdie misdaad te prioritiseer kan as ‘n vorm van aandadigheid bestempel word.

“Daar is vier redes waarom plaasmoorde geprioritiseer moet word. In die eerste plek dui onafhanklike navorsingsinstellings se navorsing daarop dat ‘n boer se kans om vermoor te word meer as dubbeld dié van ‘n polisiebeampte is. Tweedens word hierdie moorde dikwels met buitengewone vlakke van brutaliteit gepleeg. Derdens het boere ‘n kardinale rol om in die samelewing te speel, veral met betrekking tot werkskepping en voedselsekerheid. Vierdens weet ons dat boere in verafgeleë gebiede woon en dikwels ver van hul bure en naaste polisiestasies is.”

Roets sê ondanks dit weier die minister, die departement van polisie en die SAPD in die algemeen om hierdie misdade met die nodige erns te bestry.

In die lig van die hoë voorkoms van plaasmoorde en –aanvalle het Roets ook ’n beroep op Senzeni Zokwana, minister van landbou, bosbou en visserye, gedoen om met daadwerklike aksie in te gryp.

Zokwana het verlede week in die Wes-Kaap tydens ’n landboubyeenkoms sy kommer oor die vlaag van geweld op plase uitgespreek. (Sien video).

“Die minister sê gereeld dat boere en instansies soos AfriForum en die regering moet byeenkom om oplossings vir hierdie krisis te vind. Die tyd vir praat is verby. AfriForum voer reeds sy eie veldtogte op plaaslike en internasionale vlak. Wat die regering betref, is die bal is nou in die minister se hande om te sê hoé rolspelers volgens hom moet saamwerk.”

Roets het bygevoeg dat AfriForum in die komende week verdere stappe teen die departement en die SAPD se versuim sal neem.

Soortgelyke plasings