|

Misdaadkrisis in SA lok honderde na veiligheidsberaad

Die misdaadkrisis in die land het honderde mense vandag na die veiligheidsberaad van AfriForum en die Solidariteit Beweging in Pretoria laat stroom.

Die tema van die beraad is: Kom ons maak ons strate veilig.

Die ongekende reeks aanvalle en moorde op plase, hoewes én in stedelike gebiede sedert die begin van die jaar, noodsaak dit dat Suid-Afrikaners toenemend self na hul veiligheidsituasie moet kyk.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het gesê die logika van geweld is dat geweld net in toom gehou kan word deur vrees vir groter geweld. Misdadigers is net bang as hulle banger vir die polisie is. “Geweld kan net deur geloofwaardige afskrikking beëindig word.”

Volgens Buys het die vrywillige, eensydige ontwapening van die burgery na 1994 tot die misdaadkrisis bygedra. “Die voortgaande verswakking van die staat se vermoë om burgers veilig te hou, noodsaak dit nou dat gemeenskappe meer moet saamstaan.”

Hy het op die noodsaaklikheid van ’n weerbare gemeenskap gewys om misdadigers af te skrik. “Gemeenskappe het die reg en plig om hulself te beskerm.”

Hy het na die goue driehoek verwys wat nodig is. Dit behels ’n sterk polisiemag, doeltreffende privaat sekuriteit en ’n goed georganiseerde burgery. “Ons sal beter slaap as ons beter as misdaadbendes georganiseer is. Die goue driehoek is van groot waarde om geweld beter te voorkom.”

Buys het ook op die belangrikheid van buurtwagte gewys en gesê sigbare magsvertoon en weerbaarheid en die gebruik van minimum geweld moet die uitgangspunt wees.

Hy het ook ’n 10-punt veiligheidsplan aangekondig wat daarop neerkom dat Suid-Afrikaners nie apaties oor die voorkoms van geweld en misdaad moet wees nie. Dit het noodsaaklik geword dat burgers en gemeenskappe al meer vennootskappe moet sluit en onder meer hulself moet bewapen om hulself te beveilig. “Ons sal dit nie kan keer as die see onstuimig raak nie, maar ons moet ons voorberei en onsself organiseer om aan die voorpunt van die stryd teen misdaad te wees.”

Dr. Johan Burger, senior navorser by die Instituut vir Sekerheidstudies, het in sy voorlegging oor misdaadneigings en risikofaktore gesê misdaad het sulke afmetings aangeneem dat mense nie meer veilig in hul huise, motors, op straat of in winkelsentrums voel nie.

Hy het veral na trio-misdade verwys (besigheidsroof, huisroof en motorkapings) wat skerp toegeneem het. In 2015/16 was daar 19 698 besigheidsrooftogte, 20 820 huisrooftogte en 14 602 motokapings.

Met verwysing na risikofaktore het hy op verstedeliking, werkloosheid, armoede, huishoudelike probleme, gesindheidsprobleme, alkohol- en dwelmmisbruik en verskeie ander gewys wat “bydra tot ’n resep vir ’n ramp.”

Ook swak regulatoriese stelsels soos die strafregstelsel, onvoldoende wetstoepassing, gebreke in die lisensiëringstelsel en skoolstelsel skep ruimte vir hoë vlakke van misdaad.

Burger het Bogoto in Colombia as voorbeeld voorgehou van hoe misdaad afgebring kan word. Dit sluit onder meer die daarstel van stelsels in wat mense in staat gestel het om teen misdaad op te tree. Die mense van Bogoto het hul strate weer teruggeneem en kundiges gekry om ontledings te doen oor waarom misdaad in sekere gebiede erger as in ander is. Openbare ruimtes is teruggeneem en gemeenskappe is aktief betrek en beter opgelei.

Soortgelyke plasings